“Ek dink die opname is so gemanipuleer om my so sleg moontlik te laat lyk,” het Amor by navraag oor die inhoud van die klankopname gesê.

“Die persoon of persone wat daaragter sit wil my, my loopbaan, my reputasie en my kinders verwoes. Hulle wil my optimale skade berokken. Dit is ’n poging om my te vernietig. Hulle wil hê ek moet in een oomblik alles verloor waarvoor ek my hele lewe lank gewerk en baklei het,” vertel sy.

Later voeg sy by:  “Weet jy wat, eintlik gaan dit nie eens oor die verwoesting van my of my loopbaan nie. Dit  was net lynreg onwettig ,” het Amor met verwysing na die maak van die video en die beweerde opname/s wat sonder haar medewete opgeneem is, gesê. 

Sy het erken daar is dele van die opname waarin dit haar stem is, maar glo dit is opnames wat oor ’n tydperk gemaak is, bymekaargevoeg en moontlik selfs vervals is.

Die opname is gelek as deel van ’n video waarin foto’s en opskrifte ingesluit is. Dit is nie duidelik wie die video gemaak het nie.

Die saamgestelde video van 2 minute en 15 sekondes het ’n titel in rooi letters, “Amor blootgestel”, en dit begin met dramatiese musiek en dan ’n foto van ’n emosionele Amor by Joost se gedenkdiens op Loftus Versfeld wat wêreldwyd uitgesaai is.

Die woorde oor die foto lees “By sy begrafnis het sy van hulle liefde gepraat”, en dan speel beeldmateriaal en klank van haar roerende huldeblyk oor haar respek vir hom en hoe hul lewe saam eers ’n sprokiesverhaal was.

Dit word dan onderbreek met die woorde in rooi: “Maar in werklikheid het sy so met hom gepraat ...”

Joost: (Klanke van ’n gebrabbel)

Amor: Bly stil jou f*k. Jy is in ’n rolstoel, klein seuntjie. Jy kan niks vir jouself doen nie. Jy kan nie eens self piepie nie.

Musiek

Ek het jou nie in my lewe nodig nie. Jy is ’n nikswerd p*****l.

Genade, ek wens ek het nooit met jou getrou  nie. 

Musiek
Gaan terug daarna om rond te f*k.

Weet jy hoekom?

Want ek het ’n wonderlike verhouding, met ’n wonderlike man.

En weet jy wat. Jy kan maar daarvan weet, want ek kan jou nie ry soos ’n perd nie. Ek kan jou nie voer soos ’n perd en dan winde uitvryf soos ’n baba nie.

Daar het jy dit.

Hou jy daarvan? Hou jy daarvan?

Joost: (Klanke van ’n gebrabbel)

Amor: Hou jy daarvan?

So gaan baie baie mooi bed toe.

Weet jy wat? Ek het ek baie mansvriende. En weet jy wat? Ek is hot sh*t.

Amor het  nog altyd volgehou sy het Joost deur sy stryd teen MNS ondersteun en het in Huisgenoot se uitgawe van 15 Junie 2017 vertel: “Toe skielik word hy (Joost) siek terwyl ons met die egskeiding besig is.

Ek het net gedink: Hoe kan ek met die egskeiding voortgaan terwyl hy besig is om dood te gaan? Dit druis net heeltemal teen my morele standaarde in. Ek het vir Joost gesê ek sal terugstaan. Ek sal hier wees. Ons kan vervreem wees van mekaar,  maar ter wille van ons kinders sal ek nie skei nie. Ek sal by jou staan. Ons het nie bymekaar gewoon nie, maar was deur ons kinders aan mekaar verbind. Hy was elke liewe aand in my huis in die rolstoel. Hy het baie hier kom kuier en hier kom eet en dan het ek hom gevoer.”

Sy erken nou hulle het soms baklei en moeilike tye gehad, veral ná die destydse sogenaamde “seksvideo” van Joost uitgelek het. Later in sy stryd teen MNS, was dit vir haar kinders moeilik om hom so te sien. Sy vertel Joost kon dit nie altyd verstaan nie en het haar daarvan beskuldig dat sy die kinders van hom weghou.

“Hy het baie gedreig om dan die onderhoud (vir die kinders) te sny. Maar ek het die laaste jaar nie meer telefonies met hom gekommunikeer nie. Ons sou net per WhatsApp praat.”

Joost was van Maart 2015 weens die aftakelende siekte nie meer in staat om samehangend te praat nie. “Ja, ek sou dalk gesê het ek moes nie met hom getrou het nie. Maar wat het daardie gesprek voorafgegaan? Wat het hy vir my gesê dat ek so reageer? Ek glo die video is uit verskillende gesprekke gemanipuleer en dele daarvan is vervals.”

Amor vertel sy het altyd met Joost Afrikaans gepraat en sou selfs as sy ’n drankie ingehad het nooit só met hom gepraat het nie. En sy sou veral nie die volgende gesê het nie:


“Want ek het ’n wonderlike verhouding, met ’n wonderlike man.

En weet jy wat. Jy kan maar daarvan weet, want ek kan jou nie ry soos ’n perd nie. Ek kan jou nie voer soos ’n perd en dan winde uitvryf soos ’n baba nie.

Daar het jy dit.

Hou jy daarvan? Hou jy daarvan?”


Sy sê sy het die afgelope sewe jaar nie ’n man in haar lewe gehad nie, veral nie in die tyd toe sy dit kwansuis hier in die video gesê het nie. “Ek het nooit weer liefde gevind nie.”

Amor vertel Pieter van der Westhuizen, Joost se ouer broer, het eerste die video onder haar prokureur, Sean Hefferman van LP Baartman Prokureurs, se aandag gebring. “Hy het beweer die video is aan hom gestuur en hy wou net Sean oor die bestaan daarvan inlig.”

Pieter het op navraag aan Huisgenoot ontken dat hy enigiets met die maak van die video of verspreiding daarvan te doen gehad het. Hy het gesê al is die video nou uit, wil hy nie hê dit moet gepubliseer word nie aangesien dit eindelik die kinders is wat daaronder sal ly.