Niemand is beter as hy nie. En hy moes iets doen om dit te bewys, want daar is nie “Skinheads of regte Ku Klux Klan-lede (KKK)” wat weerwraak kon neem teen sogenaamde onregte jeens sy heerssugtige wit ras nie.

Toe skiet Dylann Roof in Junie 2015 nege mense tydens hul biduur in Charleston, Suid-Carolina, dood.

Polly Shephard (70) was een van die drie gelukkiges wat die dodelike koeëlreën vrygespring het. Sy was ook die een wat genadiglik daarin kon slaag om die noodnommer 911 van een van die ander gebedsgroeplede se selfoon te bel.

Die ontstellende oproep is tydens Dylann se moordverhoor in die hof gespeel. Die kalm 911-operateur slaag daarin om te keer dat Polly ’n paniekaanval kry, maar die ongelooflike angs wat sy ervaar, kan in elke woord en asemteug gehoor word.

Tydens die oproep sê sy talle mense is geskiet en dat iemand asseblief gou moet kom help.

“Hy het die pastoor geskiet. Hy het al die mans in die kerk geskiet. Asseblief, kom dadelik,” smeek sy.

Toe die operateur vra of sy veilig is, antwoord sy: “Hy is nog hier binne. Ek is bang. Hy is nog hier binne.”

Sy raak paniekerig. “Hy kom, hy kom, hy kom. Asseblief!” Polly is duidelik naby breekpunt. Die operateur sê sy moet so stil moontlik wees en vra of sy iewers kan wegkruip. Sy antwoord sy kruip reeds onder die tafel weg.

Polly sê ook die skieter herlaai, maar sy kan nie onthou hoeveel skote reeds gevuur is nie. “Daar is so baie. Drie verskillende magasyne. O God, help my asseblief!”

Waarskuwing: Video kan sensitiewe kykers ontstel. (Op die oorspronklike opname kan die doodsnikke van van die slagoffers gehoor word.)

Voor sy onder die tafel gaan wegkruip het, het Dylann glo in ’n stadium gesê hy gaan haar gaan laat leef “om die storie te vertel”. Daar is ook vir die eerste keer in die hof ’n video vertoon van Dylann se teikenskiet-oefening. Dis waarskynlik in aanloop tot sy aanval op die gebedsgroep.

Die polisie het ook ’n lys van nog kerke in sy motor gevind; vermoedelik wou hy soontoe ook gaan.

Tydens sy bekentenis het Dylann (nou 22) glad nie ontken hy het op die kerkgangers losgetrek nie; inteendeel, hy was net verras toe die federale ondersoekburo vir hom sê hy het nege mense se dood veroorsaak.

“Daar was nie eens nege mense daar nie,” het hy oënskynlik geskok op die nuus gereageer en die ondersoekers gevra of hulle jok. Dylann het gedink hy het vyf mense geskiet.

“Ek het dit gedoen,” erken hy laggend oor die skietvoorval. Hy lag ook terwyl hy vertel hy het ’n Glock .45 gebruik. Hy het die vuurwapen met sy verjaardaggeld aangeskaf.

Dylann het met sewe magasyne met 11 patrone elk na die kerk gegaan. Die magasyne kan wel 13 patrone akkommodeer, maar Dylann wou nie die risiko loop dat ’n patroon iewers kon vassteek nie.

Intussen het dit ook aan die lig gekom dat hy briewe van ’n reeksmoordenaar-bewonderaar ontvang het. Ene Andrew Dodge het dit die dag ná die kerkslagting aan hom gestuur.

Ware misdaad fassineer Andrew glo en hy het ’n obsessie met reeksmoordenaars.

Die regspanne sal op Donderdag 15 Desember hul slotbetoë lewer. Dylann se regspan het geen getuies geroep nie.

As Dylann skuldig bevind word, kan hy die doodstraf opgelê word.

Bronne: reuters.com, nbcnews.com, foxnews.com, abcnews.go.com