Volgens Netwerk24 het ’n nota die plofbare gesprek beskryf as ’n “opname wat deur ’n onbekende bron verskaf is wat glo die samelewing moet weet wat die waarheid is”.

In die opname kan gehoor word hoe ’n vrouestem, na bewering dié van Amor, praat oor ’n familielid wat haar glo aangeval het.

“Ek het bloed op my vingers en bloed oral oor my tone,” kan gehoor word.

Die verkorte weergawe van die opname is in Julie anoniem aan Huisgenoot verskaf. 

“Ek dink die opname is gemanipuleer om my so sleg moontlik te laat lyk,” het Amor destyds by navraag oor die inhoud van die klankopname gesê.

Sy het erken daar is dele van die opname waarin dit haar stem is, maar glo dit is opnames wat oor ’n tydperk gemaak is, bymekaargevoeg en moontlik selfs vervals is.

Joost se broer Pieter het toe by navraag aan Huisgenoot ontken hy het enigiets met die maak of verspreiding van die video te doen gehad.

Hy wou nie hê die video moet gepubliseer word nie aangesien dit eindelik die kinders is wat daaronder sal ly.