’n Byna 4 m lange luislang het gevrek nadat dit ’n ystervark gevreet het in ’n wildreservaat by Port Shepstone aan die KwaZulu-Natalse kus.

Die slang was reeds dood toe ’n bergfietsryer dit langs ’n voetpad in die Lake Eland-wildreservaat opmerk.

Die slang het gelê daar waar dit van ’n rotswand afgeval het.

Jennifer Fuller, reservaatbestuurder, sê die ystervark het klaarblyklik sowat ’n tiental van sy penne aan die binnekant van die slang losgeskiet.

Die penne het die slang se spysverteringskanaal van die binnekant af deurboor.

“Ons weet nie of dit vooraf dood is en of die val van die rotswand veroorsaak het dat die penne sy spysverteringskanaal deurboor nie,” het Jennifer gesê.

Ystervarke skiet hul penne uit wanneer hulle bedreig voel.

Bronne: Mirror.co.uk; Daily Mail