Die hele petalje het vanoggend begin toe ’n vrou met haar honde gaan stap. In ’n veld langs die Polokwane-lughawe het sy die slang teëgekom.

EWN berig die slang het glo die vrou en haar honde probeer aanval, maar hulle kon wegkom. Die vrou het toe die nooddienste gebel waarna die ambulans na haar uitgery het.

Jaco Gericke, van Maponya 911, vertel die slang wou hom met sy aankoms ook aanval. Hy kon dit afweer waarna dit toe onder die ambulans ingeseil het.

“Dit is steeds daaronder. Dit sit vas en is dikker as die ambulans se wielband.”

’n Slang hanteerder, Zian van den Bergh, se hulp is ontbied. Volgens hom kan die slang nie hardhandig uitgeruk word nie omdat dit reeds geringe wonde opgedoen het.

Hierdie soort slange is gelukkig nie giftig nie.

“Ons sal maar wag tot dit vanself uitkom,” het Zian gesê.

Bron: EWN