Om nugter en by jou volle bewussyn te wees is immers ’n baie belangrike vereiste vir mense om hul werk suksesvol te verrig. Nog meer as daardie mens vir die veiligheid van honderde passasiers op ’n vliegtuig verantwoordelik is.

Een van hierdie beamptes het onlangs die nugterheidstoets geheel en al gedruip. Die lugvaartowerheid het onraad begin vermoed toe ’n vlieënier wat van die Springdale munisipale lughawe in die Amerikaanse deelstaat Arkansas wou opstyg geen antwoord van die lugverkeersbeampte aan diens gekry het nie. ’n Werknemer van die lughawe is toe gestuur om te gaan kyk of alles pluis is. Daar tref hy toe die lugverkeersbeampte “bewusteloos in sy stoel met sy hemp uit” aan, luidens ’n polisieverklaring.

Toe die polisie hul verskyning maak, was Philip Maschek, die beampte aan diens, gebuk voor ’n klein yskassie besig om heen en weer te swaai terwyl hy uit ’n waterbottel drink.

Die polisie kon sonder twyfel sien Philip is dronk. Hy het egter geweier om te erken hy het te veel gedrink en het ook ’n asemtoets van die hand gewys.

Kort daarna is hy in hegtenis geneem op aanklag van openbare dronkenskap.

Die Federale Lugvaartadministrasie het ’n volskaalse ondersoek na die voorval begin.

Intussen het Philip ook oor die naweek uit vrye wil bedank.

Bronne: CNN; Daily Mail