DIT gaan nie goed met Lucas Maree se gesondheid nie. Eers was dit die kanker wat twee jaar gelede in sy lyf intrek kom neem het, en nou is daar die bloedklont in sy been. En nogmaals moes hy hospitaal toe, dié keer vir twee weke.

Maar die 58-jarige sanger en liedjieskrywer se gees is nog lank nie gebreek nie. Hy is gefrustreerd, ja, oor al dae in die hospitaalbed, sy bene in stywe chirurgiese kouse om nog bloedklonte te keer, maar met besoektyd hier in die hospitaal in Bloemfontein kuier sy hande en gesig geesdriftig saam.

Ten spyte van die kanker wat sy lyf stadig maar seker aftakel, en die aanhoudende chemoterapie en bestraling – twee maande gelede was dit sy 19de chemo – het Lucas nog lank nie sy lag verloor nie. Ook al weet hy nie mooi hoe môre sal lyk nie.

“Jy kan die ewigheid op net een van twee maniere ingaan,” sê hy. “Jy kan óf lag óf huil. En omdat jy nie weet wie jy eerste daarbo gaan ontmoet nie, sal dit dalk ’n goeie indruk skep as jy met ’n lag op jou gesig daar opdaag!”

Nie dat daar aldag rede vir lag is nie. Die chemoterapie veroorsaak waterretensie, met kwaai pyn daarby. Hy sukkel om te loop en is moeg. Maar toe kom sy musiekpelle en gee die donker wolk ’n silwer randjie.

Nie minder nie as 17 van Afrikaanse musiek se grootste name, van Steve Hofmeyr en Dozi tot Kurt Darren en Laurika Rauch, het van Lucas se grootste treffers nuut opgeneem en die CD Een uit ’n Miljoen uitgereik. Dis ’n huldeblyk aan hom en ’n manier om hom te help met sy uitgawes.

Sy oë is skielik nat. “Ek het goeie maatjies. My vriende is wonderlike mense. Ek het nie nou die woorde om dankie te sê vir alles wat hulle vir my doen nie. Dalk weet ek net nie hoe nie. Maar ek sal nog ’n liedjie hieroor skryf . . .’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 9 Desember 2010