Suid-Afrika se vlag het gister hoog gewapper op die Amerikaanse Ope-tennistoernooi toe  die rolstoeltennisspeler Lucas Sithole (26) die eerste Afrikaan word wat ’n mansenkelspeltitel op dié toernooi verower.

Hy het die eerste gekeurde Amerikaner, David Wagner, met 3-6, 6-4, 6-4 geklop en die afdeling vir kwadrupleë gewen.

“Ek was vol selfvertroue voor die eindstryd,” het Lucas gesê. “Ek wil al my ondersteuners bedank en ook vir David, wat so baie ondervinding met my op die tennisbaan gedeel het.

“Ek het dit regtig geniet om teen hom te speel. Hy’s ’n baie goeie speler – een van die bestes in die afdeling vir kwadrupleë.”

Lucas, wat op 12 onder ’n trein beland het en albei sy bene en regtervoorarm verloor het, het al 23 enkelspeltitels gewen. Vanjaar is sy droomjaar: Nie net het hy die Koreaanse Ope en Daegu Ope gewen nie, maar hy het in Julie ook die eerste Afrikaan geword wat die Britse Rolstoel Tennis Ope wen, waar hy heel toevallig toe ook vir David in die eindstryd ore aangesit het.

Hoewel hy nou al Suid-Afrikaanse mansenkelspeltitelhouer in die Amerikaanse Ope-tennistoernooi is, is hy nie die enigste Suid-Afrikaanse enkelspeltitelhouer in dié toernooi nie. Ilana Kloss en Marise Kruger het in onderskeidelik 1974 en 1976 die vroue-enkelspeltitel vir junior spelers gewen.

Ander Suid-Afrikaners wat in dié toernooi koning gekraai het, sluit in: Cliff Drysdale (1972), Bob Hewitt (1977), Frew McMillan (1977), Kevin Curren (1982), Pieter Aldrich (1990) en Danie Visser (1990) in die mansdubbelspel; Delina Boshoff (1976) en Ilana Kloss (1976) in die vrouedubbelspel; Frew McMillan (1977-1978), Greer Stevens (1979), Bob Hewitt (1979), Kevin Curren (1981-1982) en Elna Reinach (1994) in die gemengde-dubbelspel; Wayne Ferreira (1989), Grant Stafford (1989), Neville Godwin (1993) en Gareth Williams (1993) in die mansdubbelspel vir junior spelers, en Surina de Beer (1994, 1996) en Jessica Steck (1996) in die vrouedubbelspel vir junior spelers.

– Christiaan Boonzaier.

Bronne: tennis.co.za; itftennis.com; mg.co.za; usopen.org; wikipedia.org