Gospel-CD’s, ’n verkyker en R4 000 se wyn is van die vreemde en luukse geskenke wat parlementslede die afgelope jaar present gekry het.

[caption id="attachment_160321" align="aligncenter" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

Die komitee vir etiek en ledebelange het gister bekendgemaak watter meevallers parlementslede in 2016 moes verklaar. Heelparty hiervan het die oë laat rek.

Drank was ’n gewilde geskenk. Die adjunkminister van verdediging, Kebby Maphatsoe, het ’n bottel whisky van R4 999 verklaar, sowel as twee skilde uit Pakistan en ’n verkyker van R450.

Ander LP’s het wyne van R300 tot 30 jaar oue whisky verklaar. Die adjunkminister vir hoër onderwys, Mduduzi Manana, het R4 000 se wyn present gekry. Hy het ook ’n pen ter waarde van R11 000 ontvang.

Onder Mmusi Maimane, leier van die DA, se geskenke tel sokkies wat hy ses maande lank drie maal per week ontvang het, ’n pyl en boog en R25 000 kontant wat ’n Christelike organisasie hom gegee het.

Daar was ook kaartjies na sokkertoernooie, gratis haarsnye, fiksheidsmonitors, groente en selfs toiletpapier, in die geval van die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula.

Die speaker, Baleka Mbete, het nie veel grond of vennootskappe verklaar nie, maar wel aandele, serpe, boeke, sjampanje, servette en selfs tafeldoeke.

’n Versierde volstruiseier, drank en ’n resepteboek het onder Dipuo Peters, minister van vervoer, se lysie geskenke getel. Jeff Radebe, minister in die presidensie, het ’n glashoring, sjokolade, vliegtuigkaartjies en verblyf in Australië ontvang.

Julius Malema van die EFF het ook betreklik min verklaar. Op sy lysie was meestal aandele en trusts.

Bron: News24