Dit is 21 dae van loutere hel.

Dít is hoe dit vir die ma van die 28-jarige Nicola Pienaar voel nadat haar dogter op 5 Januarie vermis geraak het.

Marlaine Pienaar-Vice, ’n sielkundige in die Paarl, sê die gedagte dat sy nie eens weet of haar dogter nog leef nie, is soms ondraaglik.

“Ek kan nie begin met die rouproses as ek nie antwoorde het oor waar sy is nie. Met my pasiënte het ek al gesien – om ’n kind te verloor is een van die ergste goed vir ’n ouer om deur te gaan. Ek besef nou, niemand is daardie tragedie gespaar nie . . .”

Nicola se kêrel, Jaco Oosthuizen (32), is intussen met haar Peugeot-motor in Port Elizabeth betrap. Hy het vandeesweek in die stad se landdroshof verskyn op aanklag van motordiefstal.

“Nicola en Jaco het seker so drie maande uitgegaan. Ek het hom geken, ja,” het Marlaine aan Huisgenoot gesê.

Jaco is Saterdag in ’n KFC se parkeerterrein in die motor gevind. Volgens die polisie het Jaco gesê hy en Nicola het die Paarl saam op 5 Januarie verlaat. Twee dae later, op 7 Januarie, het hulle glo ’n uitval gehad, waarna hy Nicola in Oudtshoorn afgelaai en aangesê het om self terug te keer na die Paarl.

Jaco verskyn Vrydag weer in die hof wanneer die saak na die landdroshof in die Paarl oorgeplaas sal word. Hy is steeds in aanhouding.

Lees ook: Vermiste meisie van Paarl se ma bly hoop vir ’n wonderwerk

“Ek ken Nicola. Daar is nie ’n manier dat sy so lank sal wag om my te kontak nie,” sê Marlaine.

“Ek het al met Jaco se ouers gepraat, maar hulle sê ook hulle weet niks. Hoewel ek ’n wonderlike ondersteuningstelsel rondom my het, is dit vir my bitter moeilik. Daar is tye dat ek dit net nie meer kan hou nie, dan begin ek net huil. Ek mis haar verskriklik en weet nie waar sy is nie.