OP DIE plaas Melkhoutfontein naby Gouritzmond in die Suid-Kaap lui die telefoon sonder ophou sedert Louis Oosthuizen twee dae gelede Suid-Afrika se nuutste gholfster geword het.

Toe die 27-jarige Suid-Afrikaner die Sondag die Britse Ope wen, het hy maar die vierde Suid-Afrikaner geword wat dié grootse gholfprestasie kon behaal. En daarmee sluit hy nou aan by ’n eksklusiewe geselskap van plaaslike gholfhelde: Bobby Locke, Gary Player en Ernie Els, die ander Suid-Afrikaners wat hom voorafgegaan het.

“Ons is nie aan al hierdie aandag gewoond nie,” sê pa Piet effe uit die veld geslaan toe die deurklokkie hier op die familieplaas nogmaals lui. “Julle is al seker moeg vir mense,” vra die besoeker verskoning. “Nee, kom in. Almal is welkom,” nooi ma Minnie.

Want dis mos iets totaal wonderliks – dat Louis as volslae buiteperd en 54ste op die wêreldranglys in die 139ste Britse Ope op St. Andrews in Skotland afgeslaan en vier dae later die beker omhoog gehou het.

Buite is daar ’n reuse grasperk. Doer onder het Piet desjare ’n setperk vir Louis aangelê. By die krippe waar die beeste nou staan, was ’n bof, en ook langs die grasland en bo teen die heuweltjie, tot alles in die vloed van 1996 weggespoel het.

Maar teen daardie tyd het Louis op die setperke van die Suid-Kaap se voorste gholfbane gespeel. Maar dis hier in hierdie vars lug op die plaas naby die Gouritzrivier waar hy sy sethoue geoefen het.

Daar was ’n tyd toe Louis en ouboet Rikus net twee gholfballe en twee tennisballe daarvoor gehad het. “Maar ek het van die begin af gesien my broer sou selfs met ’n knopkierie ’n gholfbal ver kon laat trek. Ek het geweet hy’s goed; hy het talent. Hy kon van die begin af reguit slaan, en dis iets waarmee jy gebore word,” sê Rikus.

Dit was hy wat Louis op skool aan gholf voorgestel het. In die Suidwestelike Distrikte se liga was hy eers nommer een en Louis nommer twee. “Toe was Louis in gr. 8. Toe ek gaan landbou swot, het hy my verbygesteek en ek het hom nooit weer ingehaal nie!’’