Ek is uiteindelik vry! Dit is wat die sosiale vlinder en TV-aanbieder Loui Fish gesê het nadat sy vandag na ‘n uitgerekte stryd van haar voormalige man, die sokkerspeler Mark Fish, geskei is.

Die egskeiding is vanoggend deur die Pretoriase Hooggeregshof bekragtig nadat die Fish’e se 11-jarige huweliksbootjie drie en ‘n half jaar gelede op die rotse geloop het.

Hulle het nou ‘n skikking bereik wat onder andere behels dat hul twee seuns, Luke (13) en Zeke(10), beurtelings by hul ouers sal bly.

Loui was nie self in die hof nie.

Met die egskeiding nou finaal afgehandel, kan Die Tonge Los-aanbieder nou fokus op haar verhouding met die Pretoriase sakeman, Brian Hermann (43), vertel sy. Hulle gaan al drie maande uit.

Loui vertrek eersdaags saam ‘n string ander kunstenaars op Louis van Wyk se Musikale Mania-musiektoer. Sy is een van die aanbieders van die vertoning.