Dit was soos ’n Aspoestertjie-verhaal: die brandarm, doofstom egpaar wat in ’n agterplaas in ’n tuinhuisie bly en skielik Suid-Afrika se rykste kitsmiljoenêrs word toe hulle R91 miljoen in die Powerball-loting losslaan.

En toe, op dag vier van die feëverhaal, stort dit in duie. Dit was net ’n bedrogspul. Stanley Philander het sy kaartjie die dag ná die loting gaan koop, glo om op grond van sy “rykdom” ’n lening by ’n bank te kry. Maar dinge het geboemerang en nou is hulle steeds brandarm.

Dis swaar om te dink jy het gewen en te besef jy het nie – en soms is dit nog slegter om werklik te wen. Vra maar Nompilo Gumede van Durban, wie se man in 2000 R7,45 miljoen in die Lotto gewen het. Dingiswayo Gumede is minder as twee maande later in ’n ongeluk dood in die nuwe Toyota Corolla wat hy met sy wengeld gekoop het. En pleks van saam in hul nuwe, weelderige huis in Durban-Noord intrek, is die onderwyser se vrou en sy negejarige seun toe in rou gedompel.

Meermale is die ongeluk wat saam met die geluk van ’n vet boerpot kan kom, wel bloot die gevolg van mense se onvermoë om dit te hanteer. ’n Vrou van Pietermaritzburg moes verlede jaar ’n interdik teen haar man aanvra nadat hy binne ’n maand meer as R500 000 bestee het van die R10 miljoen wat hulle in die Lotto gewen het.

Gidani, operateur van die nasionale lotery, bied wel vir mense wat R50 000 of meer wen gratis finansiële raad oor kwessies soos belegging, banksake en belasting, maar daar is geen sielkundige ondersteuning nie. “Dit kan ’n reuse uitwerking op jou lewe hê as jy net-net die pot aan die kook hou en dan skielik in die geld swem,” sê Willie Oosthuizen, ’n sosioloog.

As jy die boerpot wen, kan dit bestaande probleme soos alkoholisme en dobbelary vererger, sê André Pieterse, ’n sielkundige van Bellville. Hy stel voor dat Lotto-wenners as ’n paar of as individue sielkundige terapie kry.

Lees meer oor die probleme wat kitsmiljoenêrs ondervind in Huisgenoot van 25 Februarie.