Maar dit is nie die eerste of die laaste keer dat Laura Wolvaardt (18) se naam gaan opduik nie.

Sy was ’n skrale 17 jaar oud toe sy die jongste krieketspeler – manlik of vroulik – in Suid-Afrikaanse krieketgeskiedenis word wat ’n honderdtal aanteken.

Op 9 Augustus 2016 het Laura 105 lopies teen die Ierse vrouespan in Malahide, Ierland, aangeteken.

Die Iere sal Laura gewis nie maklik vergeet nie. Op 11 Mei vanjaar het sy op Potchefstroom 17 grenshoue gespeel en 149 lopies teen hulle aangeteken in ’n opwarmingswedstryd vir die Wêreldbekertoernooi.

Saam met stewige vertonings deur Trisha Chetty (70 van 77 balle) en Lizelle Lee (40 van 60 balle) het die drietal Suid-Afrika se hoogste eendagtelling van 337/5 aangeteken.


Laura se vertoning op die veld is allesbehalwe ’n gelukskoot.

Ten spyte van hoë druk in die afgelope Wêreldbekertoernooi in Engeland, het sy 324 lopies teen ’n bestendige gemiddeld van 64,8 in sewe kolfbeurte aangeteken.

In die toernooi het sy net een keer gestruikel toe sy teen Indië net een lopie aangeteken het. Maar in die halfeindstryd teen Engeland het sy weer met durf en selfvertroue 66 lopies geslaan.

Wat wag nou op die matriekleerder wat ’n barshou kan kolf en veldwerk soos ’n wafferse Jonty Rhodes doen?

“Dis die miljoendollarvraag,” het sy aan Sport24 gesê. Sy hoop om haarself as dokter te bekwaam en het wyd aansoek om toelating gedoen.

“Ek moet eers kyk of ek toelating kry. Dalk kan ek ’n paar brugjare of meer neem, iets maklikers studeer en steeds krieket speel.”

Buiten goeie ondersteuning deur haar ouers, geniet sy ook die steun van haar skool, wat soms van haar toetse rondgeskuif het sodat sy ook die kolf met mening kon swaai.

Laura speel al krieket sedert sy vyf jaar oud was en saam met die seuns gespeel het. In gr. 8 het sy by ’n vrouespan aangesluit, maar die krieketgogga het eers meer onlangs behoorlik gebyt. En wat ’n goeie byt!

Laura se kolfgemiddelde na afloop van 25 eendagtoernooie is nou 48,05.

Hoe voel sy oor die Proteas se uitskakeling in die halfeindstryd van die Wêreldbekertoernooi?

“Ons hoop almal tuis is trots op ons. Ons het werklik ons bes probeer. Ons gaan terugkeer en heelwat sterker wees.”

Die Wêreldbeker-halfeindstryd

Die Proteas het ongelooflike steun geniet, veral ná die merkwaardige prestasie om vir die eerste keer die halfeindronde van ’n Wêreldbekertoernooi te haal.

Hier is hulle toe deur Engeland uitgeskakel, wat die verlangde 219 lopies aangeteken het met twee balle oor en twee paaltjies staande.

Dané van Niekerk, kaptein van die span, en haar spanmaats was verpletter en die trane het vrylik gevloei.

Die reaksie op Twitter

Hul ondersteuners was dit eens: Dié span verdien ’n medalje vir hul spel.


Bronne: news24.com, espncricinfo.com