Volgens nuwe navorsing kan hierdie getik vroue oorhaastige besluite oor trou en kinders laat maak. Dit kan selfs lei tot vroue wat gejaag voel en dan tevrede is met “minder suksesvolle” mans.

Navorsers aan die Staatsuniversiteit van Florida het op ’n groep mans en ’n groep vroue geëksperimenteer om te sien watter uitwerking ’n tikkende horlosie op hul houding teenoor kinders het.

Die kenners meen die idee van ’n biologiese horlosie is so diep by vroue ingewortel dat hulle op ’n onderbewuste vlak hul vrugbare jare voel wegglip wanneer hulle die tik-geluid hoor.

In die eerste eksperiment het die navorsers 59 mans en vroue gevra teen watter ouderdom hulle graag wil trou en kinders wil hê. In die tweede is hulle gevra wat hulle in ’n eggenoot wil hê en hoe finansieel seker hul kinderjare was.

Die tikgeluid het vroue met minder gegoede kinderjare blykbaar beïnvloed om vroeër kinders te wil hê en minder bekommerd oor ’n potensiële man se welvaart te wees.

Dié met welgestelder familie was blykbaar meer uitsoekerig oor ’n maat toe hulle die getik hoor.

In die studie, wat in die joernaal Human Nature verskyn, word bevind dat die tikgeluid mans nie beïnvloed nie.

“Vroue se voortplantingsvermoë word deur hul ouderdom bepaal,” het die navorsers gesê.

“Anders as mans, wat tot ’n hoë ouderdom kan voortplant, verloor vroue by menopouse hul voortplantingsvermoë

“Subtiele leidrade wat die verloop van tyd aandui – soos die waarneming van ’n tikkende horlosie – verwys dalk na ’n bedreiging vir ’n vrou se voortplantingspotensiaal.”

- Cover Media