Die rede waarom die Abba-viertal ná agt jaar weer op 20 Januarie 2016 bymekaargekom het, was vir die opening van ’n nuwe restaurant in Stockholm.

Wat hierdie restaurant so spesiaal maak, is dat gaste hul ete kan geniet terwyl Abba se musiek speel. Kaartjies vir die openingsaand het byna R2 700 per persoon gekos. Wat elke besoeker wel van seker is, is dat hulle daar gaan inloop en daar gaan uitdans.

So begin die uitnodiging ook na die Abba-museum in Stockholm, Swede. Enige mens, of jy nou ’n skrale sin vir musiek of ’n oorweldigende passie daarvoor het, sal verstaan hoekom daar so ’n museum bestaan.

Stel dit op die proef deur na enigeen van hul liedjies te luister. Dit begin met jou voete wat die ritme van dié supergroep se liedjies gaan volg. Volgende dalk jou kop of jou lyf. Kort voor lank neurie jy ook saam. Want hoe kan jy die unieke, opgewekte (en soms minder opgewekte) musiek van ABBA werklikwaar weerstaan?

Björn Ulvaeus en met Benny Andersson se paadjies het in Junie 1966 gekruis. Björn was toe deel van die Hootenanny Singers en Benny die klawerbordspeler vir The Hep Stars.

Maar dit sou eers in 1969 ’n keerpunt bereik toe die manne twee meisies ontmoet. Kort voor lank was die paartjies verloof: Agnetha Fältskog aan Björn en Frida aan Benny. En siedaar! ’n Nuwe groep word gevorm wat die wêreld sou verower. Eers het hul net hul voorname as die groep se naam gebruik, maar in 1974 verander hulle dit na Abba.

Die Eurovision-sangkompetisie wat op 6 April 1974 plaasgevind het, was waarskynlik die groep se grootste toetrede tot wêreldwye musiek-erkenning. Hulle het die beoordelaars geheel en al verower met Waterloo.

Roem en gepaardgaande spanning het in Desember 1982 tot die verbrokkeling van die groep gelei. Dit was ’n enorme terugslag, nie net vir die groep nie, maar vir al hul aanhangers in alle uithoeke van die wêreld.

Björn het glo hierna tydens ’n onderhoud met die Sunday Telegraph gesê: “Ons sal nooit weer op die verhoog verskyn nie. Geld is nie ’n faktor nie. Ons wil graag onthou word soos ons was: jonk, uitbundig, energiek en ambisieus.”

Hulle het nooit weer saam opgetree nie, maar het individueel steeds op verskillende terreine by musiek betrokke gebly.

Hulle was aanvanklik huiwerig om hul musiek beskikbaar te stel vir die musiekblyspel Mamma Mia! wat in 1999 in Londen begin het. Hierdie blyspel het alle verwagtings oortref en 14 jaar lank op Broadway gespeel. Dit is een van die produksies wat die langste tot dusver daar op die planke was.

Die laaste keer dat die viertal saam verskyn het, was met die première van die fliek Mamma Mia!, wat in 2008 uitgereik is.

Die Abba-museum open weer 12 Februarie 2016 na opknappingswerk.

Pretfeite

  1. Daar was ’n Sweedse vis-inmaakfabriek met die naam van Abba, maar hulle het gelukkig toestemming verleen dat die talentvolle vier die naam kon gebruik.
  2. Op 16 Januarie 1979 is Abba se enkelsnit Chiquitita uitgereik.

Abba se musiek is onder meer in die volgende bekende flieks gebruik 

[post-slider]

- Annelene Oberholzer

Bronne: abbasite.com, wikipedia.org, abbaomnibus.net, dailymail.co.uk, bbc.com