Die jongste modegier onder laerskoolkinders die wêreld heen is armbande wat uit helderkleurige rekkies gemaak word. Die sogenaamde “loom bands” het glo gewild geraak nadat Catherine, die hertogin van Cambridge, tydens die koninklikes se toer van Nieu-Seeland en Australië een van dié bandjies gedra het.

Kinders vleg die armbande uit die neonkleurige rekkies en dra dit as vriendskapsbandjies om hul arm. In Wallis het ’n rok wat geheel en al uit die neon-rekkies gemaak is, ’n bod van R2,8 miljoen op eBay gehaal.

Die risiko’s

Nou waarsku ’n Britse ma ander ouers oor die gevare van dié bandjies nadat haar sewejarige seun tydelik blind is in sy een oog omdat een van die rekkies per ongeluk in sy oog geskiet het.

Carlie Lawrence van Lincolnshire, Engeland, het saam met haar kinders die bandjies gemaak toe haar oudste seun per ongeluk die plastiekrekkie in sy boetie Kyle se oog skiet.

Kyle het toe ’n bloedklont opgedoen wat sy linkeroog verblind het. Hy wag tans op ’n operasie wat hopelik die sig in sy oog sal red.

Nadat nog ’n ma ’n foto van haar seun gedeel het wat die bandjies om sy arm dra en die bloedsomloop afsny, het Anne-Marie Holder, ’n Britse dokter, gewaarsku ouers moet versigtig wees oor dié gier.

“Ouers moet ’n wakende oog oor hul kinders hou wanneer hulle met die rekkies speel of armbande daarmee vleg.”

Sy waarsku ook kinders kan maklik aan die rekkies verstik of sirkulasieprobleme veroorsaak as hulle die rekkies om hul vingers of gewrigte draai.

Die voordele

Moet nog nie dadelik die neon-rekkies uit jou huis verban nie. Dit hou ook voordele in vir kinders.

Behalwe dat hulle dol is daaroor, kan dit onder meer help met die ontwikkeling van kinders se fyn motoriese vaardighede wanneer hulle die rekkies aanmekaar vleg.

Boonop stimuleer dit kreatiwiteit omdat hulle self moet besluit watter kleure om saam te vleg, skryf Erin Bowe, ’n kliniese sielkundige by die Melbourne Child Psychology Centre in Australië, op haar praktyk se blog.

Erin sê die rekkies help met die ontwikkeling van kinders se konsentrasie-  en waarnemingsvermoë. “Om ’n patroon te maak behels dat kinders hulle moet indink hoe die bandjie aan die einde van die proses gaan lyk,” verduidelik sy.

Kinders moet ook basiese wiskundige vaardighede aanwend om te bereken hoeveel bandjies hulle gaan nodig hê om byvoorbeeld ’n armband te vleg.

-Shané Barnard

Bronne: melbournechildpsychology.com, dailymail.co.uk, independent.co.uk