Michael Schumacher, wat steeds in ’n koma in ’n Franse hospitaal is, het ’n longinfeksie opgedoen, het die Duitse koerant Bild Woensdag berig.

Die impak wat die infeksie op die F1-legende se brose gesondheidstoestand sal hê is onseker, het die koerant berig.

Volgens die koerant het Schumacher se woordvoerder, Sabine Kehm, gesê: “Ons lewer nie kommentaar op spekulasie nie”.

Schumacher, 45, is al sedert 29 Desember 2013, toe hy in ’n ski-ongeluk betrokke was, in ’n koma. Hy het sy kop teen ’n rots gekap.

Dokters wat hom by die hospitaal in die Franse stad Grenoble behandel het twee weke gelede gesê hulle probeer hom geleidelik uit die koma wakker maak.

Volgens Kehm kan dié proses lank neem.