Volgens die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Douglasdale, in die noorde van die stad, het die GPF en die polisie die vrou se lyk in haar huis ontdek. Die 42-jarige vrou is die ma van twee seuns, onderskeidelik vyf en nege jaar oud.

Die Lonehill-inwonersvereniging (LRA) het die voorval op sy Facebook-bladsy bevestig en gesê die vrou is dood aan steekwonde na ’n argument met haar huishulp.

Sy het in ’n veiligheidskompleks in Scealesweg gewoon. Die huishulp se identiteit is aan die polisie en GPF bekend.

Die LRA het hul medelye met die slagoffer se vriende en familie betoon en gesê inwoners moet geduldig wees terwyl die soektog na die verdagte aan die gang is.

Die polisiewoordvoerder in Douglasdale kon nie vir kommentaar bereik word nie.