Die ontwikkelaars van die onvoltooide Walkie-Talkie-gebou, wat so genoem word vanweë sy vorm, het Dinsdag gesê dat hulle, ná beweringe dat die intense skittering van die gebou dele van ’n weeldemotor wat daar naby geparkeer was, gesmelt het en ’n brandjie buite ’n winkel veroorsaak het, die wyse ondersoek waarop die gebou sonlig weerkaats.

Die sakeman Martin Lindsay het aan die BBC gesê dat sy Jaguar se spieëls, panele en embleem gesmelt is deur die gekonsentreerde hitte van sonlig wat deur die gebou weerkaats word. “Dit was vir ’n paar uur in die stad geparkeer . . . en dis heeltemal skeefgetrek,” het hy gesê. “Dis heeltemal geruïneer.”

Die eienaar van ’n haarkappery beweer dat die skittering ’n gat in sy maatskappy se deurmatjie gebrand het.

“Ons het gewerl toe ek net rook by die mat sien uittrek,” het Ali Akay gesê. “Dit bedreig mense se gesondheid en veiligheid. Hulle moes hieraan gedink het voor hulle dit gebou het.”

Die halfvoltooide 37-verdieping-gebou is een van die wolkekrabers in Londen se gelddistrik met die opvallendste vorm. Dit sal na verwagting in 2014 voltooi word.

In ’n gesamentlike verklaring het die ontwikkelaars Land Securities en Canary Wharf gesê dat hulle die saak ernstig opneem en dit ondersoek.

“Die verskynsel is veroorsaak deur die huidige stand van die son,” het hulle verduidelik en bygevoeg dat die probleem sowat twee uur per dag duur en na verwagting nog twee tot drie weke sal aanhou.

Die maatskappye ondersoek oplossings oor lang termyn en het in tussen versoek dat die owerheid parkering verbied in drie parkeerruimtes in die omgewing wat dalk aangetas kan word, lui die verklaring.

-Sapa

Foto: YouTube, OneMinuteNews

Video: YouTube, GeoBeats News