Londen se bekende “agurkie”-kantoorgebou, een van die aspekte van Londen se stadsprofiel, is Dinsdag vir sowat R11,7 biljoen te koop aangebied nadat dit in kuratorskap geplaas is.

Die eiendomsfirmas Savills en Deloitte Real Estate het saam opdrag gekry om die gebou van 41 verdiepings in die stad se finansiële distrik te verkoop.

Die gebou lyk soos ’n glas-agurkie wat uit Londen se finansiële distrik uitstyg.

Geldleners het gefrustreer geraak met die huidige eienaar, die Duitse eiendomsfirma IVG Immobilien, se pogings om skuld te herstruktureer.

IVG Immobilien het die gebou in 2007 gekoop, maar het gesukkel om hul lenings ná die finansiële krisis terug te betaal. Dit het die kurator Deloitte op 24 April in die prentjie gebring.

Savills het gesê hulle verwag aanbiedinge “uit alle uithoeke van die wêreld” vir die gebou, wat deur Norman Foster ontwerp is en na verwagting einde vanjaar verkoop gaan word.

Jamie Olley, die hoof van stadsbeleggings by Deloitte Real Estate, het die eiendom beskryf as “die mees ikoniese kantoorgebou in Londen se stadsprofiel”.

“Die eiendom sal byval vind by ’n wye verskeidenheid plaaslike en buitelandse beleggers en ons is seker ons sal die maksimum opbrengste aan die ontvangers en krediteure kan lewer,” het hy bygevoeg.

Dit staan amptelik bekend as 30 St Mary Axe, en die gebou met sy kenmerkende kante van geboë glas is vir die herversekeraar Swiss Re ontwerp en in 2004 in gebruik geneem.

Swiss Re het dit vir sowat R10,8 biljoen aan IVG Immobilien verkoop.

Die gebou is in ’n aantal flieks gebruik, onder meer die avontuurfliek Harry Potter and the Half-Blood Prince en Woody Allen se melodrama Match Point, wat in Londen afspeel.