Dewetsdorp - Carima Barnard, huisma van die Jimmie Roos-jeugsorgsentrum, is gistermiddag op die skoolterrein vermoor. Johnny Erlank, skoolhoof van die sentrum, het Carima as 'n 'borrelende mens' beskryf wat ook baie lojaal was teenoor die skool. Carima was ook die bestuurder van 'n lodge op die terrein. Haar man Adriaan is die skoolsielkundige en adjunk-hoof by die sentrum.

"Hulle twee mans in 'n wit voertuig sien wegry"

Volgens Netwerk24 is Carima, die ma van twee kinders, met 'n baksteen en klip in die gesig geslaan. Sy het ook verskeie wonde aan haar gesig gehad.

Aanvanklik het twee skoolseuns, wat by die dam visgevang het, aan die polisie vertel dat hulle twee mans in 'n wit voertuig sien wegry het.

Vandag het polisiewoordvoerder, Yanda Ngcukana, gesê dat dieselfde twee skoolseuns laat gisteraand vir ondervraging ingeneem is. Bloedvlekke is op 'n T-hemp van een van die twee seuns gevind.

Die een seun (15) het toe reeds erken dat hy by die moord betrokke was. Hy is tesame met die ander seun (16) intussen aangekla van moord. Die motief vir die moord is egter nog onbekend.

Die seuns is tans in aanhouding in Bloemfontein.

Coetzeeblog het so op die nuus van Carima se moord reageer:

"Ag en daar is my hele skrywe in sy maai. So pas verneem van ´n bekende, Carima Barnard, met wie ons baie saam tennis gespeel het op Dewetsdorp, wat vermoor is. Sterkte aan die Goosens en Adriaan Barnard."

Bronne: Netwerk24, ofm.co.za