Ja, die tweede toets teen die vurige Iere, wat vyfuur vanmiddag afskop op die veld van SA se 1995-triomf, is ná die Nuweland-terugslag skielik ‘n hele ent belangriker. Maar soos ons Bokbreier self sê: Ons moenie nou "die paniekknoppie druk nie..." Daarom is sy 23-tal ook grootliks dieselfde; om spelers kans te gee om vir laas Saterdag se teleurstelling te vergoed. Trouens, die enigste twee veranderinge aan die begin-vyftiental is weens beserings: Elton Jantjies en Pieter-Steph du Toit vervang onderskeidelik Pat Lambie (harsingskudding) en Lood de Jager (seer kuit).

Die 60 toetse-veteraan Morné Steyn is uit Frankryk ontbied om nou in Elton se plek op die reserwebank in te skuif. Ruan Combrinck (vleuel/veelsydige agterspeler) en Franco Mostert (slot), altwee groot Lions-uitblinkers, sal eweneens hoop op speelkans van die plaasvervangerbank af.
As ‘n afrigter wat self beide hoogte- en laagtepunte langs die rugbyveld beleef het, het Eugene (Loffie) Eloff groot begrip vir hoe die druk op Allister en sy manne nou verskerp het. En hy stem saam daar's nie rede tot paniek nie. “Weet jy, ek dink die Bokke gaan [vandag] dinge vir ons omdraai,” verneem ons van die Lions se voormalige Superrugby- en Curriebeker-afrigter, ook die man onder wie die O/19-Bokke in 2003 en 2005 wêreldkampioene geword het.

Ja, daar was baie vrae ná Nuweland, soos of Allister nie eerder deurgaans spelers op peil moes kies nie. Maar Loffie kan ook tot groot mate verstaan waarom hy wou wegtrek “met ouens met wie hy vertroud is”, al was sommiges van hulle laas Saterdag baie platvoet. Allister het immers baie min tyd gehad om voor te berei en aan die bestaande Bok-opset te verander. Jy wil uiteraard met ’n wen afskop, en dan is die algemene neiging om te begin met ouens wat jy reeds ken. Dis moeilik om te sê waarom die meerderheid spelers laas Saterdag “so stomp gelyk het. Dalk het hulle te hard geoefen”. Dalk het alles wat “weg van die veld af gebeur het ’n invloed gehad”. Hoe ook al, Allister het juis nou ons ondersteuning nodig, sê Loffie. “Hy's die regte man vir die werk, maar moet hom ook met die regte ouens kan omring en uitgelos word sodat hy op sy jop kan konsentreer. “Administrateurs moet op professionele administrasie en borgskappe fokus, en politici op landsbestuur. Wat tussen die vier lyne gebeur, is die afrigter se werk.”

Intussen meen hy ook Allister vat raak deur wel nou ouens soos Ruan Combrinck nader te trek. Dié dodelike afronder het “by uitstek in die Super18 uitgestaan”. En wat hy laas Saterdag van plaasvervangers soos Julian Redelinghuys en Pieter-Steph du Toit gesien het, stem Loffie verder positief.
Wat losskakel betref, sou hy dalk wel eerder vir Johan Goosen, wat baie goed vaar by sy Franse klub, oorweeg het. En betreffende stutte ook vir Steven Kitshoff, eweneens in Frankryk. Intussen lyk die losvoorspeler Sikhumbuzo Notshe, laas week ’n groot uitblinker vir die SA A-span teen die England Saxons vir Loffie gewis na “Springbok-materiaal”.
Hy rig dié versoek aan ons rugbypubliek: “Gee die afrigter kans om sy voete te vind. Die onus rus in elk geval op die spelers om te presteer... ” (Die wedders reken juis ook die Bokke gaan vandag die pyp rook). “Gee Allister die kans om ten minste vir die Rugbykampioenskap span te bou, en vir die Wêreldbeker...

“Intussen glo ek ons hét die spelers om ook ‘n span soos die All Blacks te kan klop. Ons moet wel werk aan ons vaardighede en spelpatroon. Ons kan nie meer net ’n kicking game speel waar ons die opposisie heeltyd met ons voorspelers en aggressie onder druk probeer sit nie. Ons moet mik na vyftienman-rugby, teen ’n tempo en met berekende risiko's.”

Loffie reken SA moet eintlik dié reeks teen die Iere gebruik om spelers en kombinasies te beproef. “Ons moet dalk nie nou eers te gesteld wees op resultate nie.

“Ná dié reeks kan die afrigter dan hopelik met redelike sekerheid sê wie die, sê maar, veertig topspelers vir ‘n bestendig Bokgroep moet wees...”

En dan sou ‘n mens ook weer, dalk in ‘n werkwinkel-opset, insette van al die Superrugby-afrigters kon kry vir ‘n Bok-strategie vorentoe, reken Loffie.

Bokspan vir tweede toets teen Ierland, 17:00, Emirates Airline Park (Ellispark)

15 Willie le Roux

14 JP Pietersen

13 Lionel Mapoe

12 Damian De Allende

11 Lwazi Mvovo

10 Elton Jantjies

9 Faf de Klerk

8 Duane Vermeulen

7 Siya Kolisi

6 Francois Louw

5 Pieter-Steph du Toit

4 Eben Etzebeth

3 Frans Malherbe

2 Adriaan Strauss (kaptein)

1 Tendai Mtawarira

Plaasvervangers:

16. Bongi Mbonambi

17 Trevor Nyakane

18 Julian Redelinghuys

19 Franco Mostert 20 Warren Whiteley 21 Rudy Paige 22 Morné Steyn 23 Ruan Combrinck * Loffie Eloff vertrek eersdaags na Amerika, waar hy rugby van “onder af boontoe gaan help opbou”, onder meer as afrigter van Texas se Huns-beroepspan. Hy het ook ‘n rukkie gelede ’n boek uitgegee, Coach Loffie: Wenke vir Wenners, deels outobiografie, maar merendeels ’n handleiding vir afrigters, aspirant-afrigters en ander sportlui.