Deur xxx xxx

Die sangeres Liza Brönner het klierkoors. Volgens haar ma, Belinda, het Liza dit ook gehad toe sy twee jaar oud was en die dokter het toe al gewaarsku dat sy dit weer kan kry omdat dit ’n virus is wat geneig is om weer toe te slaan.

“Ons was verlede Donderdag by ’n AfriForum-funksie in Bloemfontein en toe Liza Vrydag oggend wakker word, was sy heeltemal rooi uitgeslaan, opgeswel en het sy gekla sy voel baie sleg. Ek het groot geskrik,” sê Belinda.

Sy het dadelik ’n dokter gekontak, wat gesê het die simptome dui op skarlakenkoors. Toe Liza, wat onlangs in Pretville te sien was, later eindelik ’n dokter te siene kry, het hulle ná vele bloedtoetse gevind dis die klierkoors wat weer ’n draai kom maak het.

“Omdat dit ’n virus is, is daar nie regtig medikasie wat kan help nie. Dit gaan so drie maande neem om uit haar sisteem te werk. Die dokter het gesê sy kan ekstra vitamien C neem en moet baie vloeistowwe inkry. Sy moet ook baie rus. Sy kan nog sing, maar moet dit rustiger vat,” sê Belinda.

Ten spyte van haar olikheid het Liza verlede naweek by al haar Jy Is My Liefling-konserte op die Pretville-stel op Hartbeespoort opgetree. Sy sal ook môre, op Vrouedag (9 Augustus), in nege konserte te sien wees.

“Ons is so trots op haar, sy werk vreeslik hard. Haar nuwe CD, Jy Het My Gevind, is ook pas klaar en sal oor so drie weke te kry wees,” sê Belinda.

- Suzanne Venter