Liz Hurley en Shane Warne het glo oor sy eks uitgemaak.

Liz (48), die Britse aktrise wat ’n model geword het, het glo haar verlowing met Shane verbreek omdat sy agterdogtig was oor sy goeie verhouding met sy eks, Simone Callahan. Sy en die Australiese krieketlegende was twee jaar verloof.

’n Bron het aan The Sun gesê: “Liz het uitgevind hy kuier baie by Simone. Dit lyk asof sy dink iets meer as vriendskap is aan die gang.”

Shane was 10 jaar met Simone getroud. Hulle het drie kinders: Brooke, Summer en Jackson. Hulle is in 2005 vir twee jaar uitmekaar ná beweringe van sy ontrouheid met ’n 25-jarige student.

In 2010 is Liz en Shane saam in Londen opgemerk en hy het bevestig sy huwelik is op die rotse. Minder as ’n jaar later het hy Liz die jawoord gevra.

Die bron het gesê: “Vriende het altyd gedink die verhouding met Liz sal nie lank hou nie en Shane sal eindelik teruggaan na Simone en die kinders toe. Die afgelope paar maande het hulle weer ’n noue band ontwikkel.”

Shane woon saam met Liz in Brittanje, maar vlieg gereeld Australië toe om vir sy kinders en eks te gaan kuier. Die bron het voorts gesê: “Ten spyte van alles is hy altyd welkom by Simone-hulle in Melbourne. Sy kinders is nou groter en het hul pa nodig. Liz kon Shane en Simone se vriendskap nie verdra nie. Hy het nooit ’n geheim gemaak dat hy Simone altyd sal liefhê en ’n deel van haar lewe sal wees nie.”