Hy's al baie dinge genoem, dikwels onvleiend, maar iets moet hy tog êrens hê, want Shane Warne weet hoe om hulle uit te boul. En ons gesels nou nie krieket nie.

Die supermodel Elizabeth Hurley is omtrent in die verleentheid,  en sy moet bontstaan en verduidelik nadat sy gekiek is waar sy die voormalige draaibouler passievol soen en by sy hotel in Londen insluip vir stomende liefdesessies.

Dis alles ’n yslike skok. Om mee te begin is Liz immers getroud. En wat het sy en Shane nou eintlik gemeen? Sy is ’n koel Engelse roos en die Australiër ’n ruwe kettingroker met ’n vieslike mond aan hom.

Maar die liefde kies vreemde weë, en die vonke het gespat van die oomblik dat die onpaar paartjie mekaar in Julie by ’n Britse perdewedren ontmoet het.

Hulle het sedertdien vir mekaar flirterige e-posse en twiets gestuur en toe Shane onlangs Brittanje toe is, het die vonke ontplof in ’n volskaalse affair.

Liz was aanvanklik ’n bietjie skaam toe sy hom weer moes sien, en dring toe daarop aan om haar ekskêrel Hugh Grant saam te neem op hul eerste afspraak vir aandete. Maar die akteur het behoorlik soos ’n vyfde wiel aan die wa gevoel, want Liz (45) was skoon oorhoops met Shane (41), ’n ietwat slanker man sedert sy aftrede in 2007.

Toe hulle die restaurant verlaat, het Liz die krieketlegende skaamteloos by ’n donker ingang ingetrek, haar hande om sy gesig gevou en hom begin soen – min wetend dat ’n fotograaf van ’n poniekoerant alles dophou.

Toe hul taxi opdaag, het die duifies ingespring en afgesit na Shane se suite by die Bentley-hotel in South Kensington (R19 250 per nag) – minder as 2 km van die huis wat Liz met haar man, Arun Nayar, en seun, Damian (8), deel.

Dit was ná negeuur die volgende oggend toe die Estée Lauder-model die hotel verlaat, maar sy het nie lank weggebly nie. Vyf uur later was sy weer daar, onberispelik geklee, met ’n energiedrankie in die hand en ’n ontwerpershandsak wat vermoedelik vol klere gestop is.

Sy en Shane was tot negeuur die aand in sy suite. Toe is hulle met ’n taxi na ’n nabye restaurant waar hulle gekiek is terwyl hulle mekaar lank soen.

“Hulle het smoorverlief en baie gelukkig saam gelyk,” sê iemand wat die paartjie dopgehou het.

Hulle is later terug na Shane se hotel en het eers nege uur later te voorskyn gekom toe die Australiër, deesdae ’n krieketkommentator en TV-kletsprogramaanbieder, ’n vlug huis toe moes haal.

Moenie Huisgenoot van 30 Desember misloop vir foto's van die twee se manewales nie.