’n Roudiens word 22 Januarie gehou vir die twee kinders van Danie en Lise Brink wat op Versoeningsdag in ’n motorongeluk gesterf het.

Lise Brink is tydens dieselfde ongeluk ernstig beseer en is sedertdien in die hospitaal.

Die gesin was na Kaap St. Francis in die Oos-Kaap onderweg toe die ongeluk gebeur. Danie is die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Die gesin se Toyota Land Cruiser se band het by Theunissen in die Vrystaat gebars waarna die voertuig die pad verlaat en gerol het.

’n Roudiens vir André (13) en Rachel (8) word Sondagmiddag 22 Januarie om halfdrie in die Hatfield Christian Church in Pretoria gehou. Daar is juis met die roudiens gewag tot Lise se toestand genoeg verbeter het dat sy dit kan bywoon.

Lise word tans in die waakeenheid van die Unitas-hospitaal in Centurion behandel. Volgens dokters is ’n volledige herstel binne ’n afsienbare tyd ’n groot moontlikheid vir Lise, ten spyte van haar ernstige beserings.

Haar linkerbeen is reeds geamputeer en haar galblaas moes ook ná die ongeluk verwyder word. Sy moet nog ’n belangrike rug- en kaakoperasie ondergaan.

Hoewel ’n fusie eers gedoen sou word, blyk dit onnodig te wees omdat die werwel goed aan die herstel is. Haar dokter het ook opdrag gegee dat Lise op haar sy gedraai word. Dit sal help met druksere sowel as die herstelproses.

Dié ma van vyf is nog nie ingelig dat twee van haar kinders oorlede is nie; sy weet wel dat haar been geamputeer is.