Lisa Marie Presley sê haar seun lyk sonder twyfel na Elvis.

Die 45-jarige sangeres, die dogter van die oorlede ruk-en-rol-legende en sy eks, Priscilla, sê haar seun Ben Keough (20), lyk op ’n druppel na sy oupa.

Gevra deur The Huffington Post of sy ’n ooreenkoms sien, het sy geantwoord: “Ek dink so. Soms baie. Dit hang af hoe hy hom optof. Ja, eintlik sonder twyfel.”

Al lyk hy soos die Suspicious Minds-musikant wat in 1977 dood is, sê sy ma dat sy hom nie sal dwing om in die familie se voetspore te volg nie.

Sy het gesê: “Hy volg sy eie kop. Ek sal hom toelaat om self te besluit wanneer hy iets wil gaan doen wat hy wil doen.”

Die ster is nie seker hoe sy sal reageer as haar kinders in die musiekbedryf is en so ’n opspraakwekkende vertoning soos Miley Cyrus by die MTV-musiekvideopryse lewer nie, maar sy sal probeer verstaan waarom hulle dit doen.

Sy het bygevoeg: “Met my kinders sal ek probeer verstaan waaroor dit alles gaan.

“As hulle dit so kan verduidelik dat ek dit verstaan, sal ek hulle ondersteun. Maar ek probeer ook altyd veral bewus wees van die boodskap wat aan ander uitgedra word.”