Die 26-jarige aktrise het op 2 Mei met haar behandeling van 90 dae begin. Die hof het beslis sy moet na ’n rehabilitasiekliniek gaan nadat sy vir polisie gejok het oor ’n motorongeluk waarin sy betrokke was. Sy is Woensdag oorgeplaas na die Cliffside-rehabilitasiesentrum in Malibu.

Lindsay was glo op die nippertjie om by Betty Ford uitgeskop te word voor sy oorgeplaas is. ’n Bron het aan RadarOnline.com verklap dat Lindsay “nie groepterapie bygewoon het nie. Sy het dae lank geweier om te gaan. Sy het geglo mense gaan haar geheime uitlap. Dit was haar verskoning.”

Die bron vertel verder: “Sy het daagliks probleme veroorsaak. Sy was ontwrigtend en moedswillig. Betty Ford is bly sy loop.”

Die kliniek, wat naby Palm Springs in Kalifornië geleë is, wou Lindsay glo uitskop, maar toe is besluit om haar na Cliffside oor te plaas.

Die bron sê: “Dit was plan B. Lindsay wou haar Adderall (medikasie vir onder meer aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring) hê. Sy het daarop aangedring en dit was ontwrigtend.”

Lindsay se pa, Michael Lohan, het vantevore gesê die Lukens-instituut in Florida is ’n beter alternatief vir sy dogter, al het hy erken sy het goed reageer op die behandeling by Betty Ford.

“Sy doen ongelooflik goed, rêrig fantasties,” het hy onlangs gesê. “Baie heling het plaasvind. Ek weet God ondersteun haar hierdie keer. Sy besef nou genoeg is genoeg. Elkeen bereik daardie stadium in hul lewe en ek dink sy het dit nou bereik. Dis tyd en ek dink sy weet dit.”

Die aktrise word op 31 Julie ontslaan. Daarna moet sy 30 dae se gemeenskapdiens verrig en meer as ’n jaar lank psigoterapie ontvang.