AS KAREN van Egoli was sy die rykmanseun Steven Edwards se raakvat-vrou, die een met ’n kop op haar lyf. Of dit nou by Walco of in die Edwards huis was, Karen het geweet hoe om vas te vat en beheer te neem.

Deesdae is sy net Lindie. Ma van drie woelige kleuters, vrou vir Sakkie en net nog ’n werkende vrou van Centurion. Of so beskryf dié blondekop aktrise haar lewe ná Egoli. En wanneer jy vroegoggend by die Strydoms se plek instap en ’n tipies huislike prentjie begroet jou, wil-wil jy haar amper glo.

Bo ’n kindertafeltjie steek ’n wilde bos blonde krulle en ’n paar wakker blou ogies uit. Dis die driejarige Nina, met tweelingboet Hugo oorkant haar, en tussen hulle ouboet Paul (5), met ’n boor in die hand en ’n leë papbakkie voor hom.

Wanneer Nina nuuskierig na die vreemde besoeker hier in hul kombuis kyk, ruil Hugo skelmpies sy half leë papbak met hare om en eet ongestoord verder.

“Verskoon die chaos,” maak Lindie (32) verskoning terwyl sy die ketel aanskakel en ’n bak beskuit uit die kas haal. Ja, ná die roem-dae by die gewilde sepie is sy nou in ’n ander seisoen van haar lewe, een waar Sakkie en die kinders voorkeur kry en sy op haar eie ontdekkingsreis is.

Dit was ’n warrelwind tyd daardie eerste jaar nadat sy afskeid geneem het van Egoli. Haar lewe soos sy dit geken het, sedert sy as 18-jarige aktrise in 1997 by die sepie ingeval het, het handomkeer verander.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 1 Julie 2010