[caption id="attachment_164610" align="alignnone" width="600"]Van links: Marthinus le Roux, Leonora Le Roux Dorfling en Benjamin Dorfling. Foto's: Facebook Van links: Marthinus le Roux, Leonora Le Roux Dorfling en Benjamin Dorfling. Foto's: Facebook[/caption]

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, sê in ’n verklaring die polisie ondersoek twee voorvalle van moord na die dood van Leonora Dorfling (36) en haar broer, Marthinus (30). Wetstoepassers doen ook ’n geregtelike doodsondersoek ná Benjamin Dorfling (42) sy eie lewe geneem het.

“My hart is stukkend. ’n Deel van my is saam met hom (Marthinus) weg," skryf Leonora en Marthinus se tannie, Jacomien Coetzee, op Facebook.

"As ons net ’n kans gehad het om totsiens te sê. Rus in vrede, my kinders. Seuna. Nora. My hart is stukkend. Julle het dit nie verdien nie. Hoe verwerk mens dit?”

Oor Marthinus, wat almal Seun genoem het, skryf Jacomien “hy was my swerweling; net ’n slaapplek hier en ’n lêplek daar en hy was skatryk in liefde”.

Die voorval het Saterdagaand omstreeks 22:30 plaasgevind op ’n kleinhoewe naby die Pietersburg Doornkraal-feesterrein net buite die woonbuurt Ladanna in Polokwane.

“Na bewering het Benjamin na Leonora en Marthinus se huis gegaan. ’n Stryery het uitgebreek, waarna Benjamin ’n vuurwapen uitgehaal het en Leonora en Marthinus geskiet het,” sê Moatshe.

“Benjamin is in dieselfde huis dood gevind. Hy het ’n skietwond gehad. Die vuurwapen is langs sy liggaam gevind.”

In die stadium ondersoek die polisie nog die motief vir die moorde, maar skakel nie huishoudelike geweld uit nie.

Al is Benjamin en Leonona ná ’n huwelik van sewe jaar uit mekaar, was sy profielfoto op Facebook steeds van hulle saam.

’n Goeie vriend van Marthinus, Daniel Dekker, het Sondag gesê hy kan nie glo wat gebeur het nie.

“Seun, ek's gebreek. Die trane loop terwyl ek skryf. Ek is jammer, chomma, ek is baie jammer.

“Jy was my beste vriend...”

Leonora laat ’n dogter uit ’n vorige verhouding, Jessica Prinsloo (15), en seun, Gustav (11) agter. Volgens Netwerk24 het Jessica op die treurspel afgekom.

Volgens die nuusblad het Leonora onlangs ’n beskermingsbevel teen Benjamin gekry.

Marthinus laat drie kinders tussen die ouderdomme van 13 en ’n jaar oud agter. Benjamin het ’n 16-jarige seun, Thys, wie se ma jare gelede haar eie lewe geneem het.

Daar is nog nie begrafnisreëlings getref nie.