Lindsay Lohan se prokureur sê die gekwelde aktrise “vaar uitstekend” nadat sy uit ’n rehabilitasiesentrum ontslaan is.

Lindsay is Dinsdagmiddag uit die Cliffside-dwelm-en-drankrehabilitasiesentrum in Malibu, Kalifornië, ontslaan nadat sy ingevolge ’n hofbevel 90 dae lank daar behandel is. Haar prokureur, Shawn Holley, hou vol die aktrise is vasebeslote om uit die moeilikheid te bly.

Sy het aan E! News gesê: “Dit was Lindsay se idee om ’n ‘afrigter’ by haar te hê wat haar kan help nugter bly. Sy vaar goed. Sy is baie optimisties en wil haar lewe regruk.”

Shawn het ook onthul die 27-jarige aktrise, wat al voorheen ’n stryd teen drank en dwelms gevoer het, hoef nou net drie terapiesessies per week by te woon.

Die rehabilitasiesentrum het aanbeveel dat Lindsay nog 18 maande lank sielkundige behandeling moet kry – óf persoonlik wanneer sy in Kalifornië is óf deur middel van Skype wanneer sy uit die staat is.

Intussen het Lindsay se pa, Michael, gesê hy is “baie trots” op sy dogter dat sy haar rehabilitasie voltooi het.

Hy het gesê: “Ek is baie trots op wat sy bereik het, hoe ver sy gevorder het en hoe ernstig sy haar nugterheid en haar toekoms opneem.”

Lindsay is tot 90 dae behandeling vir middelmisbruik gevonnis nadat sy nie in die hof die aanklag teengestaan het nie dat sy vir die polisie daaroor gejok het dat sy tydens ’n ongeluk in Junie verlede jaar agter die stuur was.