Facebook-aanhangers was in die wolke toe die skepper Mark Zuckerberg aangekondig het die sosiale-media-webtuiste gee gehoor aan versoeke vir ’n dislike-knoppie – maar dit lyk of die alternatief vir die oorspronklike like-knoppie baie meer as dit is.

Gebruikers sal een uit verskeie emosie-ikone kan kies om te wys hoe hulle oor hul vriende se statusbywerkings, boodskappe of foto’s voel.

Met die nuwe ekspressiewe like-knoppie sal jy jou liefde, lag, skok, hartseer en woede kan wys.

“Soos jy kan sien, is dit nie ’n dislike-knoppie nie, maar ons hoop dit spreek breër tot die hart van die versoek,” het Facebook se hoofprodukbeampte, Chris Cox, in ’n boodskap gesê.

“Dit begin vandag en (die mense in) Ierland en Spanje kan hul liefde, bewondering of simpatie by ’n Facebook-boodskap wys deur oor die like-knoppie te skuif of dit te selekteer en ’n rukkie in te hou waar hulle dit sien. Ons sal die terugvoer gebruik om dit te verbeter en hoop om dit binnekort aan almal bekend te stel.”

As jy ’n aanhanger van die goeie, um, oudmodiese duimteken is, moenie bekommerd wees nie – dit is steeds ’n opsie!

Kyk na die video om te sien hoe dit gaan werk.