“Ons het nog geen verdagtes geëien nie,” vertel kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder in Pretoria. Die polisiekantoor in Silverton het twee klagte van bedrog ontvang van mense wat chihuahuas op die internet wou koop. Hulle ondersoek die sake en vermoed derduisende rande is ter sprake.

“Ons is seker daar is nog slagoffers elders in die land en vra hulle moet met ons kontak maak. Ons wil ander waarsku om baie versigtig te wees as hulle honde oor die internet koop,” sê Jan. Hulle vermoed ander voorvalle is nog nie aangemeld nie. Moenie geld in iemand se rekening betaal as jy nie seker is wie presies aan die anderkant van die transaksie is nie, waarsku hy.

Hier is voorbeelde van advertensies, maar dis nie noodwendig deel van die swendelary nie:

chihuahua1

Die vermeende bedrieërs adverteer op die internet, veral op webtuistes soos Gumtree en OLX. Die honde moet glo van oorsee ingevoer word om seker te maak hul bloedlyn is suiwer, verduidelik die kuber-hondesmouse. Belangstellendes word ’n rekeningnommer gegee waarin hulle ongeveer R10 000 moet betaal.

Nadat die geld inbetaal is, laat die “verkoper” weet dit gaan nog R3 500 kos omdat die honde eers in spesiale hokke op die lughawe in kwarantyn geplaas moet word.

Sodra al die geld oorgeplaas is, verdwyn die booswigte dieper die kuberruim in en niks word ooit weer van hulle gehoor nie.

Het jy in dieselfde strik getrap? Laat weet ons by pvanzyl@huisgenoot.com sodat ons die polisie kan help. Jy kan anoniem bly en sal met die ondersoekbeampte in verbinding geplaas word.