Sifiso Thabethe (23) het Saterdag aan ’n liggaamsboubyeenkoms in Umlazi naby Durban deelgeneem.

Hy was bekend daarvoor dat hy altyd as deel van sy roetine ’n agteroor-bollemakiesie op die verhoog uitvoer.
 
Saterdag was nie ’n uitsondering nie, maar dié keer het dit rampspoedig geëindig vir die belowende jong liggaamsbouer.
 
Sy laaste oomblikke is op video vasgelê. Daarin kan gesien word hoe hy, geklee in ’n swart Speedo, onder toejuiging van die toeskouers sy kenmerkende bollemakiesie uitvoer.
 
Sifiso het egter met sy kop eerste die vloer getref. ’n Groep mans het hom te hulp gesnel toe hulle besef hy staan nie op nie.

Kol. Thembeka Mbhele, ’n polisiewoordvoerder, het gesê Sifiso is na die hospitaal gehaas, maar is met sy aankoms dood verklaar.

Liggaamsbou Suid-Afrika (BBSA) sê Sifiso se val is waarskynlik te wyte aan die feit dat hy sokkies aangehad het toe hy die bollemakiesie aangepak het.  

“Hy het waarskynlik gegly en sleg op sy kop te lande gekom,” het Wayne Price, BBSA-president, gesê.

Hy was in 2016 ’n junior kampioen in die Internasionale Federasie vir Liggaamsbouers (IFBB) se gewigskategorie tot 75 kg.

Bron: news24.com