Dié jong liggaamsbouer, oorspronklik van Slowakye, het vroeër in ’n parkeerarea buite ’n supermark in Weston-super-Mare in Engeland inmekaargesak en kon nie weer bygebring word nie.

’n Nadoodse ondersoek het gewys Andrej is byna onmiddellik dood nadat sy hart gebars het. Daar is ook steroïede en testosteroon in sy bloed gevind.

Andrej het glo twee maal per dag geoefen en homself in ’n spiertier van meer as 2 m lank omskep. Hy het sowat 127 kg geweeg toe hy dood is.

In die proses om so reusagtig te word het sy organe geswel, het die dokter wat die nadoodse ondersoek gedoen het, verduidelik.

Dr. John Oxley het bygevoeg dit is baie ongewoon dat so ’n jong mens so iets oorkom, maar Andrej se organe was heeltemal buite proporsie.

Andrej se hart het 680 g geweeg, 50 persent meer as ’n normale hart van tussen 400 en 500 g. “Dis steroïede wat sy hart so vergroot het,” het John gesê. En ’n vergrote hart verhoog die kans dat die borsslagaar bars, soos wat met Andrej gebeur het. ’n Ander dokter, Peter Harrowing, het van John verskil en aangevoer die bars kon ook weens ’n genetiese defek gewees het en kan nie noodwendig aan die gebruik van steroïedes toegeskryf word nie. Dit was glo Andrej se droom om soos die Hollywood-akteur en stoeier Dwayne “The Rock” Johnson te lyk. “Hy wou die nuwe Rock word,” het een van sy vriende gesê. “Nou sal hy nooit daardie hoogte kan bereik nie.”

Bronne: Metro.co.uk; Mirror.co.uk