Die videogreep begin heel onskuldig: ’n Paar ietwat verslonsde, middeljarige mans praat oor wat hulle in ’n maat soek.

‘‘Ek hou van ’n regtig gawe, aangename lyf,’’ sê een.

‘‘Hierdie hande sal jou nooit laat gaan nie,’’ sê ’n ander, amper uitlokkend.

Die kamera begin terugtrek; jy sien ’n bietjie meer van die toneel terwyl nog iemand sê: “Ek het die wêreld se tyd vir jou . . .’’

En nou sien jy waar die manne is: in die tronk. Jy besef hulle is gevangenes – en die maat wat hulle graag wil ‘‘ontmoet’’, is watter nuwe “aangename lyf’’ ook al by hulle in die sel gaan beland . . .

Dis ’n ysingwekkende toneel: So 15 mans lê in ’n tronksel rond, party met tatoes op hul kaal bolyf, ander in oranje tronkklere.

Die kamera swiep neer op ’n ruwe, tandlose tronkvoël. ‘‘Pappa wag vir jou,’’ sê hy dreigend terwyl hy reguit in die kamera kyk.

Dan eindig die advertensie met die woorde: “Hulle wil jou baie graag ontmoet. Moet nooit dronk bestuur nie.’’ Die implikasie is duidelik: In daardie sel kan ondenkbare dinge met jou gebeur . . .

Die advertensie wat jou laat hoendervleis kry, is van die drankverspreider brandhouse – en hul jongste poging om dronkbestuur hok te slaan laat die oë wyd rek.

‘‘Al dink baie mense dit maak nie van hulle ’n slegte mens om dronk te bestuur nie, wil ons hê hulle moet sien hulle kan saam met baie slegte mense in die tronk beland,’’ sê Phumza Rengqevan brandhouse.

‘‘Ons navorsing toon mense glo selfs wanneer hulle bestuur nadat hulle te veel gedrink het, sal niks met hulle gebeur nie. Die veldtog skok mense dalk, maar ons wil hê hulle moet mooi verstaan: Dronkbestuur het gevolge.’’

Lees meer hieroor in Huisgenoot, 16 Desember 2010.