Hulle is die prentjie van volmaakte harmonie. Twee, maar eintlik een. ’n Sangpaar met hoë agting vir waardes soos vriendskap, liefde en integriteit.

Dis immers van die hoekstene waarop die duet-paar Rudi Claase (27) en Corlea Botha (23) hul wenresep van die afgelope twee jaar gebou het.

Maar elke af en toe slaan daar tog ’n krakie in die sangpaar wat al as “Ons Lieflinge” bekend geword het, se mondering deur.

Soos onlangs weer, toe die Lieflinge ’n Kaapse gehoor ontstig het nadat hulle op die nippertjie hul optrede by die Afri-Klassiek-musiekvertoning in die Grand Arena by die GrandWest-casino gekanselleer het.

En hoewel dit op die oppervlak lyk asof daar nie onmin tussen die twee boesemvriende is wat mekaar al 13 jaar lank ken nie, wil die gerugte oor professionele jaloesie maar net nie gaan lê nie. Daar is selfs fluisteringe oor die begin van die einde vir Rudi (27) en Corlea (23) . . .

Verlede Oktober reeds, kort nadat Rudi in die tydskrif Huisgenoot-Pols openhartig oor sy bipolêre gemoedsteurnis gepraat het, het die sangpaar bevestig dat hulle voor meer as 4 000 aanhangers by die Kaapstadse konsert sou optree.

“Twee dae voor die konsert het Stephen Stewart, hul bestuurder, my laat weet hulle sal moontlik nie kan kom nie,” vertel Bennie Robinson van Crescendo Musiek, regisseur en vervaardiger van die konsert.

Stephen, Rudi se man en die sangpaar se bestuurder, het laat weet dat hulle eers teen die Vrydag sou kon bevestig of Rudi & Corlea wel sal kan optree. Laat Vrydagmiddag het die nuus toe gekom: Rudi sal weens gesondheidsredes nie kan optree nie – sy psigiater het slaapterapie aanbeveel.

Rudi se stryd met bipolêre gemoedsteurnis is geen geheim nie. En toe sy huwelik met Stephen (28) verlede jaar op die lappe kom, het gerugte dat hy weer met die siekte stoei, opnuut opgevlam.

In Januarie het hy vertel die aanhangers hoef nie in die minste bekommerd te wees nie; hy wen die stryd en is piekfyn en gesond. Maar nou lyk sake ietwat anders, en die psigiater het siekteverlof tot 2 Februarie voorgeskryf. “Die doktersbrief wat ons gekry het, sê hy kry slaapterapie en is af weens spanning,” vertel Bennie.

Ongeag die terugslag het Corlea steeds soos ’n ware ster opgetree. Sy het saam met haar ma, Mesadi Botha, wat haar altyd vergesel, afgevlieg en die gehoor self verskoning gevra.

“Corlea, wat in een van haar balrokke uitgevat was, het op die verhoog verskyn, mooi vir die gehoor verduidelik dat hulle ongelukkig nie kan optree nie, vir hulle gewaai en toe afgestap.”

Saterdagoggend voor die konsert het Bennie nog gehoop Rudi & Corlea sou wel kon optree, maar nadat die psigiater Rudi glo weer geëvalueer het, het hy finaal bevestig dat die talentvolle sanger en liedjie-skrywer nié moet optree nie.

Agterna sou konsertgangers wel wonder: As Corlea dan wel daar was, hoekom het sy nie maar alleen opgetree nie?

Lees die volledige artikel in Huisgenoot, 10 Februarie 2011.