Die lewe gaan oor veel meer as ’n bal. Jy sal waardevolle lesse leer. En jy kan nie alles beheer nie.

Dit is van die dinge wat Derick Hougaard aan sy 11-jarige self wil sê. Die voormalige Springbokrugbyspeler en Lofstus se liefling het onlangs ’n brief aan sy 11-jarige self op Facebook gepubliseer.

“Van Piketberg tot Loftus was altyd net ’n droom. Maar jy kon jou droom leef. Geen druk van jou Ma of Pa nie. Net ouers wat trots is op jou en ’n Peugeot 505 wat wonder bo wonder nooit gebreek het nie. En tog langs elke veld daar was om net te kyk hoe jy liewer en liewer vir ’n sport word. Besering ná besering,” skryf Derick in sy brief.

“Vriende wat jy gemaak het. Wat jou omvou het. En jou beskerm het asof jy hul grootste besitting was. En jou droom saam met jou gelewe het. Want niemand kan alles alleen doen.”

Derick skryf hy het as elfjarige aan homself beloof dat hy altyd dankbaar en nederig sal bly. Hy skryf oor hoe sy leeftyl verander het en hoe hy soms na sy mense verlang het. “Om uit tasse te lewe was ’n leefstyl en opwindend aan die begin. Maar dit het later aan jou siel begin vat.”

Eindelik stel hy sy 11-jarige self gerus wanneer hy homself afvra: “Sal jy dan gelukkig wees met jou lewe?”

En die antwoord? “ ’n Skamele JA.”

Lees Derick se volledige brief hier: