Soggens word vele Jacaranda FM-luisteraars met die stemme van die Complimentary Breakfast Show-span wakker. Dis lekker lag – soms ernstig, maar altyd pret saam met Rian van Heerden, Dianne Broodryk, Robbie Kruse en Thabiso Kahambule.

Hulle het die laaste ruk ’n string dorpies in hul opvanggebied op hul Love Tour besoek om hul luisteraars te ontmoet. Limpopo se BelaBela, Modimolle, Mookgopong, Mokopane, Tzaneen, Haenertsburg, Makhado en Polokwane lê agter die rug.

Volgende stilhouplek: Mpumalanga. Vandeesweek kuier hul in Witbank, Middelburg, Lydenburg, Graskop, Blyderivier, Sabie, Witrivier, Barberton, Malelane en Mbombela (Nelspruit).

Ons het van die geleentheid gebruik gemaak om vir die aanbieder en bekende radiopersoonlikheid Rian van Heerden ’n paar vrae te vra.

Voltooi die sin: Liefde is . . .

. . . onbeperkte hartstoegang.

Wat eet jy vir ontbyt?

Ongelukkig eet ek nie ontbyt nie! Daardie 10 minute se ekstra slaap beteken meer!

Wat is jou gunsteling-dorp en hoekom?

Tot dusver Tzaneen. Ek het iets heeltemal anders verwag. Dis warm ja, maar die mense daar is net so warm! En die omgewing is absoluut pragtig.

Die mense voer julle seker vet. Wat was tot dusver die lekkerste kos?

Ons het beslis aangesit! Die gasvryheid wat ons ervaar, ken geen gelyke nie. Maar my gunsteling moet die Boekenhout-heuning wees wat ’n byeboer genaamd Jan in klein emmertjies kom aflewer het terwyl ons besig was om in Mokopane uit te saai.

Jy het op Twitter gesê: “Ek sien ’n opregtheid by mense wat ek nie gedink het bestaan meer nie . . . I am changing by the kilometer . . .” Hoekom het jy gedink opregtheid bestaan nie meer nie en hoe verander hierdie reis jou?

Ons woon ongelukkig in Gauteng, wat mense verhard. Vriendelike gesigte op die pad en in winkels is ’n uitsondering. Uiteindelik word daar nie eens meer moeite gedoen om te groet of medemenslik te wees nie. Die hart word onder lae sinisme begrawe.

Op hierdie reis het ek tussen die mense van die Bosveld weer outydse opregtheid ervaar. Ek het nou ’n ander beeld van my mede-Suid-Afrikaners gekry. My oë het oopgegaan.

Wat beteken die #LoveTour vir jul luisteraars?

Ek wil nie in clichés verval nie, maar daar is geen ander manier om ons radioprogram te beskryf nie: Die aanbieders en luisteraars is een groot familie!

Met hierdie toer het die familie van ver af kom kuier. En die geleentheid gekry om met ’n drukkie of ’n handdruk net te kon sê: “Ons is nie beter as die ander nie. Ons is hier vir mekaar. Dankie dat jy ons die groot eer aandoen om na ons te luister. Ons wil graag julle stories ook eerstehands hoor en vertel wanneer ons kan.”

Julle is nou al ’n paar dae saam op die pad. Wie in Complimentary Breakfast Show is:

a)    Die beste een om mee saam in ’n kar te ry en hoekom?

Tot dusver Thabiso – hy onthou gereeld om my tas te gryp as ek dit iewers vergeet! Die man is ook nooit sonder ’n glimlag nie en dis heerlik om te sien hoe ’n jong uitsaaier so gereeld verstom kan word deur die impak van ons medium.

b)   Die een wat die grootste geraas maak en die meeste nonsens praat?

Die meeste geraas word tans deur Robster gemaak. Maar Robster is Robster en hy was nog nooit iemand wat jy kan ignoreer nie!

c)    Die een met wie jy nie graag ’n kamer wil deel nie en hoekom?

Ek sal nie graag ’n kamer met Maljan wil deel nie! Ek is seker hy beplan sy wraak op my weens al die stunts wat ons vir hom uitdink. Daar is ’n goeie kans dat ek sal wakker word met ’n gedierte wat met my lepellê!

Watter ander projekte beplan jy? Kan ons dalk weer ’n seisoen van jou kykNET-geselsprogram verwag?

Nee, nie op die oomblik nie. Maar ek en ’n oudkollega is besig met ’n nuwe televisieprojek wat (as dit van die grond af kom!) televisie weer onmisbaar sal maak . . .

- Loren Pienaar