Vyf jaar nadat hulle mekaar ontmoet het en twee kinders later, het een van Hollywood se gelukkigste paartjies eindelik verlede maand afgehaak – en hulle het toe nie klein en intiem gedink nie. By hul troue was daar selfs ’n olifant.

Die bruid het in drie verskillende ontwerper-uitrustings gepryk, die kos was natuurlik hemels, die gaste was swierig en niemand minder nie asLionel Richie het vir die musiek gesorg. Dit was immers sy dogter Nicole se groot dag . . .

En die olifant? Dié het sommer vir die aardigheid by Lionel se huis in Beverly Hills rondgestap toe Nicole Richie eindelik met die rocker Joel Maddengetroud is.

Die plegtigheid was weelderig maar privaat, met bekendes soos Gwen Stefani en haar man, Gavin Rossdale, onder die gaste. Met hul seun, Sparrow (15 maande), op die arm en dogter, Harlow (3), aan die hand het Joel kansel toe gestap op die maat van Harlow’s Song, ’n liedjie wat hy spesiaal vir hul eersteling geskryf het.

Sparrow het die ring vasgehou en Harlow was die blomme­meisie, al was sy meestal besig om hande vol blomblare op die grond uit te pak pleks van vir die gaste uit te deel.

Pa, dogter en seun het voor die kansel vir die bruid gewag, en toe Nicole aan haar pa se arm verskyn, het Ballerina Girl opgeklink, die liedjie wat hy vir haar as klein meisietjie geskryf het.

En met haar rietskraal lyfie in ’n pragtige Marchesa-rok met ’n wye tulle-romp het sy nes ’n danser gelyk.

Dit was vir haar die volmaakte troue, sê Nicole (29). Joel het geweet hoe graag sy ontwerp en beplan en dat sy ’n duidelike prentjie van haar groot dag in haar kop gehad het, en hy het haar toegelaat om dit net soos in haar droom te maak.

Hulle wou ’n gevoel van weelde skep, maar ook van pret, en ’n gevoel van vryheid. Hul goeie vriendRun DMC, ’n voormalige hip-hop-ster en nou ’n predikant, het die diens gelei.

Dit was die vanselfsprekende keuse om die troue by Lionel se huis te hou, sê Nicole.

‘‘My pa het nog altyd gesê hy wil hê sy dogters moet by sy huis trou, en toe hy hierdie huis koop, het ek geweet dit is waar ons gaan trou. Hy is so ’n liefdevolle gesinsman en dit het net sin gemaak.’’

Haar gesin ‘‘kon nie blyer gewees het’’ toe sy vir hulle sê sy gaan eindelik trou nie, sê die verliefde bruid.

‘‘Hulle weet ons trou omdat ons wil, nie omdat ons moet of hoef te trou nie. My pa noem Joel my prins op ’n wit perd en dis waar.’’

Sien pragfoto's van die troue in Huisgenoot, 13 Januarie 2011.