Sy onthou daardie Valentynsdag van 2006 nog soos gister – die loop van die vuurwapen teen haar swanger maag, die twee skote wat klap, die folterende pyn toe sy net daar begin kraam.

Daar was die noodkeisersnee, haar vergeefse smeekbede dat haar kindjie tog net moet leef – en die eerste en laaste keer dat sy ooit die warm lyfie van haar klein Jenna-May kon vashou.

Asof dit nie seer genoeg was nie, kom die ergste skok toe nege dae later: Dit was haar vriend, die pa van hul kindjie, wat agter dit alles gesit het...

Sulke skokkende verraad sou baie mense dalk vir die res van hul lewe bitter gelaat het, maar die mooi Melissa Shelver (27) van Oos-Londen se blou oë blink weer en jy sien die kuiltjies in haar wange soos sy lag.

Sy haal ’n foto’tjie van haar baba uit en sê: “Ek sal haar altyd liefhê, en deesdae kan ek na haar kyk sonder om die seer te voel – alles danksy ’n groot wonderwerk wat gebeur het.”

Melissa, wie se verlies die land destyds aangegryp het, het weer liefde gevind, en dis geen nuwe warrelwindromanse nie...

By haar aanstaande skoonouers se huis in die Paarl stel sy ons opgewonde voor aan Jason Dyer (29), met wie sy oor twee maande trou.

Sy blom behoorlik toe sy vertel dis eintlik soos ’n droom wat waar geword het. “Jason was my eerste groot liefde op skool in Oos-Londen en toe sy pa na die Paarl verplaas word, het ons verhouding nog ’n paar jaar gehou, maar die afstand het net te veel geraak.

“Ek kon hom nooit vergeet nie, maar het nie in my wildste drome gedink ons sou ooit weer by mekaar uitkom nie. En daar gebeur dit toe sommer uit die bloute!’’

Lees die volledige artikel in die 1 April-uitgawe van Huisgenoot.

Bespreek vir Skouspel!