Op die laaste aand van haar vakansie in Australië het sy ’n lang, bruingebrande blondekopman ontmoet en “’n pragtige aand” saam met hom deurgebring.

Die volgende dag het sy na Parys teruggevlieg. Maar toe verloor sy haar foon en daarmee saam enige hoop om met die aantreklike vreemdeling in aanraking te kom.

Ses weke later het sy uitgevind sy het darem ’n aandenking aan die vreemdeling: sy ongebore kind.

Nou is die jong Parysenaar, wat sê sy het nie ’n gesin nie, daarop uit om hom op te spoor. Natalie het na Mooloolaba aan Queensland se Sonskynkus teruggekeer en wend haar met ’n video tot die vriendelike menigte op die internet om haar die pa van haar baba te help opspoor.

“Hallo, ek is Natalie en kom van Frankryk af. Ek maak vandag hierdie video, want ek het julle hulp nodig,” sê sy terwyl sy op ’n grasperk by ’n strand in Mooloolaba sit.

“Drie maande gelede het ek na Mooloolaba gekom. Ek het dit terdeë geniet en wonderlike mense ontmoet. Op die laaste aand het ons ’n partytjie gehou.

“Ek het ’n baie oulike ou ontmoet. Vir my was dit liefde met die eerste oogopslag. En ons het ’n pragtige aand gehad.”

Sy verduidelik verder sy het haar foon verloor nadat sy na Parys teruggevlieg het en geen manier gehad om hom te kontak nie. Sy sê die man is sowat 1,8 m lank met blou oë, blonde hare en ’n sonbruin lyf.

Maar ’n YouTube-gebruiker het daarop gewys haar beskrywing stem ooreen met “waarskynlik die helfte van die bevolking van die Sonskynkus”.

Sy het geantwoord: “Ek weet . . . Dis hoekom ek my laaste geld bestee het om hierheen terug te vlieg om hom te soek.”

Sy het ook ’n Facebook-blad begin om haar in haar soektog te help en waarop sy haar volgelinge op die hoogte van haar verhaal hou.

“Asseblief. Ek het nie gedink dit sou op die nuus wees nie,” sê sy in ’n plasing. “Ek wil hom net weer sien.”

“Ek het niks oor nie. As ek hom nie kry nie, sal ek huis toe gaan. As hy nee sê, oukei dan . . . Is dit so verkeerd?”

Bronne: MailOnline, Brisbane Times