Dit is net voor vyfuur op ’n Dinsdagoggend en Karel de Haas is op pad na sy werk op Ingogo in KwaZulu-Natal. Hy het diesel gaan ingooi toe ’n werker nader storm en sê die huis op die hoewe oorkant die grootpad is aan die brand.

Oomblikke later staan Karel (29) versteen in ongeloof voor die Hope in Christ Mission se plek van veiligheid. Vlamme lek by die sitkamer- en kombuisvensters uit. ’n Vrou hardloop met haar baba om die huis. En bo die geknetter van die vlamme klink die kindergille op . . .

Hy bel die nooddienste en sy vriend Paul Bartlett (32) om te kom help. Dan soek Karel ’n deur. By die oop kombuisdeur lek die vlamme al uit. Iemand kom met ’n trekker en watertenk aangery en Karel gryp die brandslang. Hy spuit en spuit, maar besef niks kan die brand meer keer nie. ’n Vreesbevange gesiggie loer deur die diefwering na hom. “Asseblief, help my!” skree die meisie.

“Gaan staan in die bad en tap koue water in!” skree hy, maar die beangste kind hardloop terug die huis in. Intussen het Paul opgedaag. Hy het die diefwering voor die hoofslaapkamer se venster uitgeruk en staan nou binne. Dis waar Karel hom kry.

By Paul se voete, gehurk teen ’n kas met ’n serp oor haar kop en ’n jong seun aan haar voete, is Sarah Holland (57), ’n oudkleuterskoolonderwyseres. Saam dra hulle haar na buite, maar sy is reeds dood. Die jong seun is ook dood. Hulle dra nog twee kinders en ’n baba na buite, en wonderbaarlik leef hulle – die laaste inwoners wat lewend uit die huis sal kom.

Sarah het haar geld, haar laaste jare en eindelik ook haar lewe in diens vir ander gegee. Sy het die kinderhuis ses jaar gelede met haar pensioengeld begin. Haar deur was oop vir enigeen in nood.

Lees meer oor hierdie merkwaardige vrou in Huisgenoot van 25 Februarie.