Dit was ’n lang, moeisame pad na die sukses wat hulle nou smaak – en soveel staaltjies!

As 'n mens so na die Afrikaanse musieklandskap kyk, wil-wil dit lyk asof die manne koning kraai.

Maar moenie glo nie. Kry Juanita du Plessis,Lize Beekman en Nianell saam in een ateljee, laat die kameras flits, en jy’t magic. Hulle is professioneel. Sexy. Talentvol.

Toe Steve Hofmeyr se nuwe album, Duisend en Een, kort ná die uitreiking daarvan die nommer-een-posisie op die kykNET-program DKNT se Top-10 haal, het Juanita hom onttroon met haar nuwe album, Engel van my Hart.

Toe die organiseerders van die Fifawêreldbekersokkertoernooi se afsluitingseremonie plaaslike talent soek, wie het die verhoog met die internasionale superster Andrea Bocelli gedeel? Niemand anders as Nianell nie.

En as jy ’n sanger is in Suid-Afrika en die muse ontwyk jou, by wie klop jy aan vir ’n treffer? Lize Beekman, natuurlik.

Vandag is hulle groot sterre, maar hulle het klein begin. En deurgedruk.

Juanita onthou nog goed hoe sy in 2001 – toe nog vars in die bedryf – by die destydse Geraas-musiektoekenningsaand in Johannesburg moes optree. Haar liedjie Ska-rumba was die treffer van die jaar.

‘‘Mense soos Johannes Kerkorrel en Anton Goosen was in die gehoor en ek kon sien hulle wonder wie is dié vrou en hoe kan dit die liedjie van die jaar wees,” onthou sy. ‘‘Daardie aand het ek besluit ek sal hulle verkeerd bewys.’’

En sy het. Haar albums verkoop soos soetkoek. Met verkope van meer as ’n miljoen kan ’n mens sekerlik sê sy is die koningin van Afrikaanse musiek. Engel van My Hart het op dieselfde dag dat dit uitgereik is platinumstatus behaal.

Nianell se nuwe album, Sand & Water, is net so ’n groot sukses, en bewys sy is ewe gemaklik in Engels as in Afrikaans.

Sy het ook al ver buite ons landsgrense haar slag as liedjieskrywer gewys. ’n Nieu-Seelander, Hayley Westenra, het Nianell se liedjie Who Painted the Moon? opgeneem en meer as 2 miljoen kopieë van haar CD Pure met hierdie treffer daarop is al verkoop.

Die liedjieskryfgodin Lize Beekman het uit die staanspoor besluit om haar eie pad te loop – om haar eie musiek te sing en self te besluit oor hoe, waar en wanneer dinge in haar loopbaan gaan gebeur. Vandag word sy as een van die bestes in Afrikaans gereken.

Haar nuwe DVD, Ek Was Al Daar, is ’n moet vir enigiemand wat musiek maak of daarvan droom. Dit bied jou ’n kykie na ’n kunstenaar wat haar eie ding op haar eie manier gedoen en tog die soet vrugte van sukses gesmaak het.

Hulle het nie oornag beroemd geraak nie. Allermins.

Wie sal kan glo Juanita het lank in Namibië saam met ’n dansorkes opgetree waarin haar man,Doepie, kitaar gespeel het?

Sy onthou hoe sy kort ná die bekendstelling van haar tweede CD, Ek en Jy, voor drie mense in ’n winkelsentrum gesing het.

“En daardie drie mense was my eie drie kinders,’’ vertel sy laggend.

Vandag werk haar oudste, Ruan, as promotor vir sy ma en die tweeling, Franja en Mario, is al tieners.

Haar eerste album, Juanita, is in 1998 opgeneem en 5 000 eenhede daarvan is verkoop, min vergeleke met die reuse treffers wat sy later in haar loopbaan sou uitreik. Die album is binne net vier dae en met ’n baie knap begroting opgeneem.

Vir haar tweede album het Doepie borge loop soek, want hy het in haar geglo . . .

Sy vertel nou nog staaltjies uit daardie bittersoet beginjare, soos die keer in 1998 toe sy al haar moed bymekaargeskraap het om vir Johan van Rensburg van Noot vir Noot ’n briefie te skryf. Kan sy tog nie groot asseblief in die program kom optree nie? het sy gevra.

Die antwoord? ’n Baie vriendelike nee.

Vandag kan sy net daaroor lag, en intussen het sy darem al ’n paar keer op Noot vir Noot gesing. En hulle het háár gevra.

Tog is sing nie vir haar alles nie. Juanita beskou haarself bowenal as liedjieskrywer. Die meeste van haar grootste treffers soos Mengelmoeskardoes, Vlieg Hoog, Bly By My en Lepellê kom immers uit haar eie pen. Sy skryf van country-pop tot gospel.

‘‘Ek is geseën dat ek die gawe gekry het om ’n catchy tune te skryf. Ek dink ek het deur die jare en met die baie konserte begin leer waarvan mense hou. Wanneer ek ’n liedjie skryf en dit vang my, is daar ’n goeie kans dat dit my gehoor ook gaan vang.

‘‘Soms skryf ek 10 minute aan ’n liedjie, maar ander kere neem dit my maande,’’ vertel sy. “Vlieg Hoog is ’n voorbeeld. Ek het seker ses maande lank met die begin van die koor in my kop rondgeloop voor ek die liedjie geskryf het.’’

Lize onthou haar eerste solooptrede in Pretoria in 1998 met heimwee, maar ook dankbaarheid – omdat daardie dae nou verby is. Net vier mense het opgedaag.

‘‘Maar hulle het al vier ’n CD gekoop!’’ vertel sy. Natuurlik was sy teleurgesteld. ‘‘Maar in die begin was ek net te bly iemand het opgedaag. En volgende keer bring hulle dalk vriende saam.

“Natuurlik het ek by tye moedeloos geraak en gewens daar was meer mense, maar hierdie op- en aftye kry enigiemand maar in enige loopbaan. Jy skraap dan net weer moed bymekaar, tel jou kop op en gaan aan. Opgee was nog nooit ’n oplossing nie.’’

Haar grootste uitdaging in die begindae was die koste daarvan om met ’n musiekloopbaan te begin, veral as jy dit soos Lize onafhanklik van ’n platemaatskappy doen.

“Dit kos geld om CD’s te maak en shows te hou. Ek het aan die begin daardie koste gedra deur houtwerk te doen. Ek het onder meer promosiegeskenke en esels vir skilderye gemaak.

“Ek het nagte deurgewerk, skroewe ingedraai en hout vernis tot ek blase op my hande gekry het.”

Maar sy het vasgebyt, want dit was haar droom, sê sy. “Ek het geglo ek kan ’n musiekloopbaan hê en dat ek iets het om te bied.

“Ek was nog nooit spyt oor my loopbaanbesluit nie,” sê sy. “Dis maar soos enige loopbaan. Dis nie altyd lekker of maklik nie, maar ek leef my liefde en my passie uit. Ek is eindeloos dankbaar.’’

Ook Nianell se pad na sukses was een van steil opdraandes. Sy sê trouens: “Om ’n eerste album uit te kry was vir my die hoogste berg om te klim. Ek het lank gesukkel voor ek ’n kontrak by ’n platemaatskappy gekry het.”

In die tyd dat sy nog net daarvan kon droom, het sy vyf jaar lank in deftige hotelle gesing en sy vertel blosend van ’n keer in 2001 toe sy vir Helmut Lotti gesing het sonder dat sy dit eens besef het.

‘‘Ek het by die Hilton in Sandton gesing en klavier gespeel. Ek het so tussen die tafel en die buffet gesit en een van die gaste het elke keer wanneer hy gaan kos inskep, saamgesing,” vertel sy.

‘‘Hy het probeer om hoër note as ek te sing en dan het ek gewys ek kan nóg hoër! Ek het nog gedink: Wat ’n wannabe. Toe kom ’n vrou na my en sê sy sien ek het ’n bekende aanhanger. Eers toe besef ek dis Helmut Lotti, want ek het hom glad nie herken nie.’’

Daardie vyf jaar van optredes in hotelle was vir haar ’n baie goeie leerskool, sê sy.

‘‘Die eerste drie jaar was vir my moeilik, maar toe het ek dit vir myself omgedraai en gemaak of dit die beste verhoog in die wêreld was.”

Dit het vrugte afgewerp en daardie einste hotelsingery het daartoe gelei dat sy eindelik ’n platekontrak by Sony BMG gekry het. Sy was al 30 toe haar debuutalbum, Who Painted the Moon?, in 2002 uitgereik is.

Het die lang wag daarvoor haar nie soms ondergekry nie?

“Ek het nooit ’n agterdeur gehad nie,” sê Nianell. “My talent om te sing en liedjies te skryf is ’n gawe van God. Die lewe is ’n sirkel. Jy het hoogtepunte en laagtepunte en jy het die laagtepunte nodig om die hoogtepunte te waardeer.

“Ek spot altyd en sê oornagsukses neem 15 jaar. As jy na die suksesvolle kunstenaars in Suid-Afrika kyk, sal jy sien hulle het almal hard gewerk om te kom waar hulle vandag is.”

Sy lag as ’n mens haar oor haar driejarige drieling, TaydenKaeley en Jade, uitvra en vertel daar is mense wat dink sy is bekend juis omdat sy die drie woelwaters het!

“Iemand het gebel om te hoor of hulle Nianell én die drieling kan bespreek,” lag sy. “Maar dit hou my voete op die grond en maak my net meer vasberade om my musiek by alle mense uit te kry.”

Min mense weet die drie vroue skryf al van kleins af hul eie liedjies.

“My ma sê ek het van drie jaar af al my eie goedjies begin opmaak,” vertel Nianell. ‘‘Ek wou nooit die liedjies sing wat sy my leer nie.”

Sy was 12 toe sy in Namibië aan die Musiekmakerskompetisie deelgeneem het en die kategorie vir eie komposisie gewen het. Die liedjie waarmee sy gewen het, was Friends.

Lize het ook op 12 haar eerste sukses as liedjieskrywer behaal toe Clive Bruce haar liedjie Like an Eagle opgeneem het.

Juanita het in haar skooldae gedigte – meestal oor liefde en vriendskap – geskryf en dit op die kitaar getoonset.

Maar die muse praat met elk van die vroue op ’n ander manier. By Lize is die vertrekpunt van ’n nuwe liedjie soms ’n liriek, andere kere ’n enkele melodie of ’n musiekbeweging op die kitaar.

‘‘As daardie enkele ding eers met my hart en kop begin gesels, volg die res saamsaam. Die twee, woorde en musiek, stuur mekaar in die regte rigting. Die twee raak gemaklik met mekaar soos brood en botter,” beskryf sy die kreatiewe proses ewe digterlik.

Sonneblom uit Bethlehem is seker haar grootste treffer en interessant genoeg ook die een wat sy die vinnigste geskryf het.

‘‘Ek het lank geloop met die enkele reël: Ek bring vir jou ’n sonneblom uit Bethlehem, maar toe ek gaan sit om dit in ’n liedjie te bêre, het dit binne 20 minute vorm aangeneem. Dit was een van my liedjies wat hom bloot kom aanmeld het.”

Maar sy het nie altyd die luukse om vir die muse te wag nie, sê Lize.

‘‘Wie dit gesê het, ontgaan my nou, maar hy het dit baie mooi raakgevat: ‘We don’t start working because we are inspired. We become inspired because we are working.’

Vir Nianell kom die woorde moeilik. “Dis vir my ’n vreeslike proses. Ek wil dit nie forseer nie. My kop is die hele tyd vol note: voete wat ritmies geluide maak, ’n wasgoedlyn wat kraak in die wind, dit is alles vir my musiek. Ek kry melodieë van oral. Maar met die woorde moet ek gaan sit en werk, want ek neem dit nie ligtelik op nie.”

Sy sê sy het al van haar beste lirieke in die vroeë oggendure geskryf.

“Drieuur in die oggend is ek regtig moeg en kan nie meer met ’n helder brein dink nie. Dit is dan wanneer die Hoër boodskappe na my toe kom. Life’s Gift was so ’n liedjie. Dit is vir my gestuur en ek is net die boodskapper.”

Maar al kry sy inspirasie van Bo, vertel sy laggend, skryf sy die meeste van haar liedjies “op die toilet”.

“Dis omtrent die enigste tyd wanneer ek alleen is. Maar ek skryf ook graag wanneer die klank voor ’n konsert getoets word. Ek het tydens ’n onlangse toer nege nuwe liedjies geskryf. Ek het saam met ’n groep musikante getoer en ons het saam aan die liedjies gewerk, wat ’n groot vreugde was. Jy kry vinniger ’n idee van wat die eindproduk gaan wees as jy saam met ander musikante skryf.”

Taal is ’n ander element by liedjieskryf en is ’n ding wat sy eie kop volg.

“Ek sal nie jok nie – ek skryf in Engels omdat dit vir my makliker is,” erken Nianell. “Omdat Afrikaans ’n nuwer, jonger taal is en ek van suiwer Afrikaans hou, is dit vir my moeiliker. As ’n liedjie soos Mamma en Pappa of Soos ’n Kind na my in Afrikaans kom, skryf ek dit in Afrikaans. Maar as liedjieskrywer is my grootste doel om soveel mense moontlik te bereik en my liedjies vir internasionale sangers te gee. Daarom word Engels dalk voorgetrek.”

“Ons taal is so mooi,’’ sê Lize. “Die eerste prys is noodwendig om die storie te vertel of die emosie oor te dra in daai mooi taal. Ek het wel al soms ’n Engelse woord geleen wanneer ek voel dit dra op die een of ander manier tot die realisme van ’n liedjie by.”

En met hul oor op die grond vir die ritme van ’n nuwe liedjie, ’n bietjie inspirasie en baie talent sal die drie hul aanhangers nog lank met nuwe treffers verras . . .

Maak seker jy loop nie ons Lente-uitgawe mis nie! Nou landwyd beskibaar.