’n Kaapse prokureur wat ook deel was van Jason Rohde se regspan, is Maandagaand buite sy huis doodgeskiet.

Netwerk24 het aanvanklik berig Noorudien Hassan (45) is Maandag omstreeks 22:55 sewe keer by sy huis in Lansdowne, Kaapstad, geskiet.

Hy was glo saam met ’n vriend op pad na die supermarkie wat hy en sy broer saam besit toe ’n dubbelkajuitbakkie met ses insittendes agter hulle stilgehou en kort daarna op die mans losgebrand het.

Sy vriend het met hom na die Kingsbury-hospitaal in Claremont gejaag, maar hy is net ná middernag dood verklaar.

“Die omstandighede rondom ’n moord word ondersoek,” het konst. Noloyiso Rwexana aan Huisgenoot bevestig. Die skietvoorval het volgens Noloyiso in Burwoodweg gebeur.

“Die motief vir die moord moet nog vasgestel word.”

Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie doen ’n beroep op lede van die publiek met inligting om na vore te kom.

In 2014 het die nuuswebblad IOL berig dat Noorudien en sy gesin net-net ontsnap het nadat ’n plofbare toestel na hul huis geslinger is en ontplof het.

Noorudien was luidens berigte bekend daarvoor dat hy mense in die Kaapse onderwêreld in die hof verdedig het.

Hy was saam met die prokureurs Daniel Witz en Tony Mostert deel van Jason Rohde, uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s International Realty in Suid-Afrika, se regspan. Jason staan tereg op die moord op sy vrou, Susan.

Dit is nog nie duidelik tot watter mate Noorudien se dood ’n invloed op die saak kan hê nie.

Enigeen met inligting moet die Lansdowne-speurders bel by 021-700-9000 of 082-576-2804.