“Ons het besluit vanjaar is die jaar,” het Barry, wat ook Lianie se bestuurder is, Vrydagmiddag aan Huisgenoot bevestig.  

“Ons het nog nie op ’n spesifieke datum besluit nie, maar die bruilof gaan beslis vanjaar plaasvind.”

Lianie en Barry, of Beertjie soos sy haar geliefde noem, is al 10 jaar verloof en 12 jaar ’n paartjie. Barry het die blondekop met die rasperstem se hart destyds met ’n toe-oë-afspraak in Bloemfontein verower.

“Ons het elke jaar gesê vanjaar is dié jaar dat ons gaan trou,” sê Barry, “maar dan het ons so besig geraak tussen die werk op die plaas (waar Lianie se familie by Oranjeville boer) en al die optredes, singery en musiektoere deur. En elke keer dat ons ons oë uitgevee het, was die jaar weer op sy rug.”

Hy sê omdat hulle al so lank saam is, vergeet hulle soms dat die trouklokkies nog nie gelui het nie.

“Ons besef dit moet nou gebeur.

“My pa is al vroeg in my lewe oorlede en Lianie het ’n jaar en ’n half gelede haar pa (weens longkanker) verloor.”

Hy sê hulle besef die lewe staan nie stil nie.

“Ons wil nie langer uitstel nie, is baie opgewonde en wil nou die ding doen!”

Die paartjie kyk nog na ’n paar trouplekke, maar het nog nie finaal besluit nie.

“Die harde werk lê nou eers voor met al die reëlings wat ons nog moet tref. Vanjaar is ook al weer halfpad en ons besef ons moet nou wikkel!”

Ons is saam met julle verheug oor die blye tyding, Lianie en Barry!