Liam Payne se blitsige denke het sy beste vriend se lewe help red.

Die One Direction-ster se vinnige optrede Andy Samuel se lewe help red. Hulle het saam grootgeword in Wolverhampton. Nadat ’n brand in die aantreklike ster se woonstel in Londen ontstaan het, het hy die vlamme doodgeslaan en Andy met water natgegooi. Die brand het Maandagaand begin toe ’n patio-verwarmer ontplof.

Andy se stiefpa, Matthew Baker, is bly oor die sanger se heldedaad en het aan die Daily Mirror gesê: “Ons is so dankbaar teenoor Liam omdat hy sy lewe gered het.

“Die lantern het net ontplof terwyl Andy dit aangesteek het en hy was in vlamme gehul. Liam het hom gehelp deur die vlamme dood te slaan en water op hom te gooi. Hy het vinnig opgetree.”

Liam is glo “geskok” omdat Andy brandwonde aan sy bors, bene en arms opgedoen het.

Matthew sê: “Wat gebeur het, is absoluut afgryslik. My seun is baie siek. Ek het ’n telefoongesprek met Liam gehad en hy het my presies vertel wat gebeur het. Hy is self baie geskok. Dis erg genoeg, maar dit kon baie erger gewees het.”

Liam was in die kombuis van sy woonstel in Canary Wharf toe dit gebeur en het nie seergekry nie.

Nog twee mense het glo geringe brandwonde aan hul hande opgedoen.

’n Ambulans en die brandweer is om 21:45 ontbied en 35 brandweerbeamptes het die brand help blus. Liam se balkon het in die slag gebly.

Sy orkeslede, Harry Styles, Louis Tomlinson, Niall Horan en Zayn Malik, was nie die aand daar nie.