’n Britse toeris is uit die genadelose Australiese agterveld gered nadat hy verlede maand vir twee dae in ‘n afgeleë gebied verdwaal het.

Geoff Keys (63) is gered danksy sy eie vernuftigheid toe hy besef het hy het verdwaal. Hy het ‘n reuse SOS-boodskap in ‘n oopte in die sand geskryf, hopende dat dit uit die lug raakgesien sou word.

En dit is.

Dae tevore wou Geoff met ‘n kortpad koers kies kamp toe…maar sy “kortpad” het hom geheel en al in die reusagtige Jardine Nasionale park laat verdwaal.

Op die ou end het hy twee moedelose dae in die wildernes spandeer, sonder kos en skoene. Al wat hy aangehad het, was ’n swembroek, t-hemp en ’n hoed.

Die eerste aand het Geoff tot twee uur in die oggend rondgeloop in die hoop dat hy ander mense sou kon opspoor.

Die volgende dag, terwyl hy in die uitmergelende hitte aanhou rondloop het, het hy die heeltyd helikopers gehoor wat waarskynlik opsoek was na hom.

Oortuig sy vriende het hom as vermis aangemeld, het Geoff toe die blink idee gekry om die SOS-boodskap “HELP 2807” met groot pyle wat stroom-af wys in riviersand te skryf.

Maar niks het gebeur nie. Die ure het verby gekruip en dit het weer nag geword. Eers die volgende middag het Geoff weer die helikopters gehoor.

Brad Foat, deel van die lugspan opsoek na Geoff, het toe die boodskap raakgesien.

Hy het aan SkyNews vertel: “Ek was opgewonde; dit was die eerste leidraad wat ons gehad het. Ek het besluit om eers nog ondersoek in te stel voordat ek al die helikopters na die gebied gestuur het.

“Ná ons nog sowat 6 kilometer gevlieg het, het ek die loods gevra om terug te draai. Toe, uit die bloute, gewaar ek ons vermiste man waar hy in die middel van ’n stroom vir ons staan en waai.”

Geoff was erg uitgeput en kon skaars beweeg. Hy is dadelik na ’n nabye hospitaal geneem waar hy behandeling vir uitputting, dehidrasie en diep snye op sy voete ontvang het.

Bronne: SkyNews; Metro.co.uk