Aanklaers beweer dat Joyce Hardin Gerrard haar kleindogter, die 9-jarige Savannah, laat hardloop het as straf omdat sy ’n leuen vertel het oor lekkergoed. Sy het geweier om die meisie te laat ophou hardloop selfs nadat Savannah begin opgooi en smeek het om op te hou.

In die hof is die skoolbus se sekuriteitsvideo gewys waar Joyce sê hoe sy die meisie gaan laat hardloop om haar ’n les te leer. Jurielede het in ’n nie-bindende aanbeveling aanklaers se pleidooie afgekeur vir ’n doodsvonnis vir Joyce vir Savannah se dood.

Daar was verdeeldheid onder die jurielede se besluit: sewe vir lewenslank, en vyf vir doodstraf. Die besluit het Donderdag op Joyce se 50ste verjaardag plaasgevind.

Alabama-wetgewing bepaal dat minstens 10 tot 12 jurielede ten gunste van die doodsvonnis moet stem voordat dit aanbeveel kan word. ’n Eenvoudige meerderheid kan lewe aanbeveel. Onder dié wet is die uitspraak ook net ’n voorstel. Regter Billy Olgetree sal die finale vonnis by ’n verhoor op 11 Mei bekendmaak.

Assistent-distrikprokureur Marcus Reid het jurielede gevra om die doodsvonnis aan te beveel, en voeg by dat hy nog nooit ’n saak soos hierdie een vervolg het nie. “Hierdie saak is die enigste saak waarvan ek weet waar die oortreder die slagoffer geforseer het om aan haar eie dood deel te neem,” het hy gesê. Joyce se familie het Woensdag gepleit dat die jurielede haar lewe sal spaar. Hulle beskryf haar as ’n liefdevolle ouma wat mishandeling in haar kinderjare jare moes verduur wat ingesluit het dat haar eie ouma haar geslaan het. Joyce het laas week getuig dat sy geen bedoeling gehad het om die meisie te benadeel nie. Sy ontken dat sy vir Savannah geforseer het om te hardloop. Joyce het onder kruisverhoor gesê dat Savannah haar hulp wou hê om vinniger te word vir wedrenne by die skool, en dat hulle al twee baie gehardloop het voor Savannah ineengestort het.

- Sapa